BlogsOpinion

Die Lorriesmous: Brood vir my Broer

Vele kere is Neels oor die kole gehaal omdat hy tersluiks te veel korting op sy transaksies aangebied het.

Hierdie tyd van die jaar, ‘n dag na Kersfees, smag selfs die woeligste lorriesmous na ware verposing. Die rooiwarm enjin moet genoegsaam luier sodat die turbo-jaer se duiselwekkende omwentelinge kan afneem  eerdat die kragtoevoer afgeskakel word. Selfs die gety is rustiger vanaand terwyl die dowwe maan oor die reëlmatige branders biggel.

Die kerngedagte van Kersfees het met die grysheid van die tyd groter gestalte aangeneem.

Die populêre credo van ‘the winner takes it all’ klink  nou klakkeloos leeg teenoor die egte betekenis van ‘Brood vir my Broer’. Het jy alweer  weggeraak op jou ver paaie, Neels? Sy lieflingvrou klap hom soos ‘n onnutsige golf uit sy denkerswêreld. Askies my Liefste, waaroor het ons nou weer gepraat? Ewenwel, dis by verre beter om te gee as om te vat. Neels kry ‘n klapsoen vir sy wysheid.

Pixabay

Vele kere is Neels  oor die kole gehaal omdat hy tersluiks te veel korting op sy transaksies aangebied het. Waar daar inruile betrokke was, is hy weer as Kersvader gepromifeer. Neels se betoog dat sy transaksies intens kompiterend is en ‘n halwe eier beter as ‘n leë dop  is, het op brak aarde geval. Die Bestuur was steeds suur selfs nadat Neels sy transaksies afgehandel het en die netto profyt gevestig is.

Met  hierdie modus operandi het Neels sy kliëntebasis gevestig en uitgebrei. Die nuwe toetreders tot die bedryf het ook ‘n korting by Neels ontvang, tot groot ontsteltenis van die Bestuur en sommige kollegas. Hy sou tersluiks die Maatskappy van potensiële inkomste beroof.  Selfs die besadigste Lorriesmous sou nes Neels op sy agterpote spring. Kla my dan aan van diefstal of ontslaan my na behoorlike tugverhore, daag hy sy klaers uit.

Daar was ‘n dik wolk van stilte in die raadsaal. Neels sou die Dinsdagmore ‘n jaar later nooit vergeet nie.

Ses maande gelede het die Bestuur ‘n transaksie aan een van van hulle lakeie toegeken. Dit was ‘n transaksie sonder enige fieterjassies vir twee 35 ton steenkoolkombinasies. Die Maatskappy het ‘n ongekende wins bekonkel en  het weke na die aflewering nog makiti gehou en mekaar geluk gewens. Neels het maar opsy gestaan. Nou is die kliënt terug saam met vier netjies uitgevatte manne met ‘n laptop onder die arm.

Die gesprek agter toe deure het na ‘n paar minute selfs deur murg en been gesny. Die manne staan op uit hulle stoele asof daar ‘n geelslang in die Bestuurder se kantoor ingeseil het. Soos  een man bars hulle uit sy kantoor en spreek hulle vonnis  soos donderweer uit. You have just lost our transaction for a further seven units!  Hierdie menere het by die Hoofhandelaar ‘n kwotasie gekry en toe uitgevind hoe hulle ingeloop is op die eerste transaksie.

Pixabay

Na die stof gaan lê het, sou Neels die gaping slaan op die maandvergadering.  In duidelike afgemete sinsnedes het hy die sout behoorlik ingevryf: In ons hoogs kompiterende mark durf  die kliënt nie uitgebuit te word deur die afslag te negeer nie. Deur ‘n afslag toe te staan word daar inderdaad belê in die toekoms. Die Handelaarshoof het vanuit sy glaskas hande geklap en selfs die klerke in die administrasie het Neels kom handskud. Die Bestuur het die aftog geblaas en met  tandeglimlag.

Neels het onderlangs gebrom: my leuse is, brood vir my broer; soveel beter om te gee as om alles te wil vat.

Janee, dis hoe mens ‘n volronde transaksie gestalte gee. Die gesiene Hendrik Malan se opmerking weergalm steeds in Neels se ore. Dit gebeur selde dat die kliënt die lorriesmous  erkenning gee op die walle van die Vaal se toprestourant. Hendrik het sy neef en swaer saamgebring vir die wis en onwis, dog hoofsaaklik om sy transaksie vir 4 bulperde met Neels te vier. Die kelnerin was oorstelp toe Hendrik ‘n dik rol note uit sy gatsak trek en vier blou menere afskilfer vir haar fooi. Vir die stywe rekening is kaart geswipe;  dit gaan tersluiks deur sy boeke. Hendrik het Neels by sy kantoor kom oplaai in sy skitterende robyn S 500. Oppad terug stop hulle by die langste robot in die dorp.

Pixabay

‘n Deurwinterde rivierbewoner neem sy kans waar en staan manierlik ‘n paar tree van Hendrik se oop venster. Nog voor  die benadeelde volksgenoot ‘n woord kon uiter, maak Hendrik ferm verskoning: my landgenoot, ek kan sien jy is honger en dors. Ongelukkig dra ek nooit kontant op my nie, ek werk net met ‘n kredietkaart… Neels laat nie op hom wag nie: kom hierdie kant toe, hier is vyftig Rand vir ‘n witbrood en ‘n karba wyn teen die koue. Die kleingeld hou jy vir more. Daar drup ‘n traan van dankbaarheid op die grond.

Die lig slaan groen en Hendrik is erg onthuts: nou waarom het jy my so’n krater gemaak? Neels antwoord Hendrik in sy gesig. Die rede waarom jy by my lorries koop is omdat ek nog nooit vir jou of enige kliënt gelieg het nie. Dis ook beter om te gee as om alles te vat; los ‘n brood vir jou broer. Dit was seker moeilik vir die gesiene ryk boer om sy bek te hou, nogal voor sy neef en swaer.

Jare daarna het Hendrik altoos sy gesprek met Neels afgesluit sonder om te groet, slegs met dieselfde sinspreuk: Brood vir my broer.

Hierdie fynbesnaarde kuns om al die betrokke partye selfvoldaan te laat glimlag, gebeur nie vanself nie. Dit is die mespunt in die lorriesmous se swoeg en sweet. Al sou hy al die kennis besit, trokspesifikasies resiteer en al die oorredingsvermoeëns in pag hou om  alles vir homself in te palm…’aan die einde van die dag’ sou hy net van een klip na die ander spring. Alles tevergeefs want hy het nie  brood vir sy broer oorgelaat nie. Neels het hierdie goue sleutel vroeg gevind en vele deure oopgesluit. Hy het ook deernis vir die rivierbewoners onder die treinbrug gehad. Dit is beslis die Boodskap van die feesgety!

Hannes van der Westhuizen.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.

 A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad.  On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales. Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten.  He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

For news straight to your phone, add us on WhatsApp 082 421 6033

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button