Dit was baie stil in die Watergat die afgelope week. Ons het ons ‘regulars’ gehad, maar baie min vakansiegangers. Hierdie tyd van die jaar het ons normaalweg besoekers sonder kinders of met nie-skoolgaande spruite wat hier inloer, maar hulle was skaars.
Die besprekingsonderwerpe onder die Suidkussers wat kom kuier het, is op die oomblik feitlik net politiek, veral die Amerikaanse politiek, en, soos gewoonlik, sport. Sodra die VSA-politiek ter sprake kom, is dit onmiddellik ‘n verdelende faktor. Ek sien ook op Facebook sê mense mekaar kwaai sleg oor hierdie onderwerp. Dis baie duidelik Suid-Afrikaners wat hulle aan die Amerikaanse politiek steur, is erg verdeel oor die saak. Daar is nie grys gebiede nie. Dis swart of wit.
Ek wens inderwaarheid hierdie verkiesing is verby, sodat ’n ander land se politiek uit ons gesprekke kan bly. Ook die Suid-Afrikaanse politiek veroorsaak dat mense warm onder die kraag word. Soms onnodig, en soos met die gebeure in Amerika, lyk dit vir my die hoofrede is mense is nie behoorlik ingelig nie. Menings is een ding, maar redenasies op grond van wan- of verkeerde inligting iets heel anders.
Ons gunsteling gesprek-onderwerp bly gelukkig sport. Die Sharks het ons harte bly gemaak met hul tweede oorwinning in die VRK, al was hul terugkerende Springbokke effens verroes. Oom Pottie het weer deur ‘n pynigende laaste 20 minute moes gaan, maar danksy skitterende verdediging in Parma is sy Lions nog onoorwonne. Met die Bulls ook goed geplaas, al het hulle verloor, en die Stormers wat goed wakker geskrik het, behoort die Suid-Afrikaanse spanne vorentoe baie goed te vaar. Die groot teleurstelling was natuurlik die Protea-vrouekrieketspan wat die tweede keer na mekaar in ’n eindstryd van die Wêreldbeker-T20-toernooi verloor het. Ai tog. So naby en tog so ver. Nogtans, hulle het goed gedoen.
Ons glimlag van die week kom van John Green, ’n motor-sakeman van Kaapstad wat hier op ’n sakebesoek is.
Gatiep werk as ’n portier op die Trans-Karootrein. Hy kry soms vreemde versoeke, dus was dit vir hom normaal toe ’n fris rugbyspeler hom R200 aanbied om te sorg dat hy wakker is en van die trein af wanneer hulle in De Aar aandoen.
“Dis nie maklik om my wakker te maak nie,” verklaar die man.
“Ek sit my gewoonlik kwaai teë, dis waarom ek jou R200 betaal. Sorg net dat ek op De Aar afklim, ongeag wat ek doen!”
Die trein was al anderkant die Vrystaat toe die bulderende rugbyspeler op Gatiep afstorm.
“Waarvoor het ek jou betaal! Hoekom is ek nie nou op De Aar nie!”
Hy skel Gatiep behoorlik uit en pluk hom rond. Toe die man uiteindelik stilbly om asem te skep, let hy vir die eerste keer op hoe verrinneweer die arme Gatiep se gesig is. Mond geswel en bebloed, bloedmerke op die ken, snye op die voorkop en een wang.
Die fronsende Gatiep se oop oog staar nadenkend voor hom uit. Hy is doodstill.
“En wat op dees aarde het met jou gebeur? Wat staar jy so?” vra die rugbyspeler.
Uiteindelik antwoord hy: “Ai tog, meneer. Ek wonder nou vreeslik baie wie sou daai meneer wees wat ek by De Aar van die trein af gefight het.”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
