Oktober is anti-boeliegedragmaand, en die uwe het gaan oplees oor die jongste stand van sake. Verskeie bronne bevestig daar is ’n verontrustende toename in boeliegedrag in skole. Nuusberigte oor die afgelope ses maande dui daarop dat dit ’n ernstige fenomeen in skole word, en dat ouers raadop raak. Opvoeders, skoolhoofde en bestuursrade is bewus van hierdie probleme in skole, en weet eenvoudig nie wat om aan die saak te doen nie.
Die aanlyn-nuusbron IOL noem skrikwekkende statistiek: Meer as 3.2-miljoen leerlinge word jaarliks in Suid-Afrika deur mede-leerlinge geboelie. Meer as 67% van die boelie-slagoffers vra nie hulp by onderwysers nie want hulle dink nie dit sal enige verskil maak nie. Negentig present van die boelie-gedrag by skole word deur leerlinge gepleeg. Sowat 160 000 hoërskool-leerlinge bly daagliks by die huis om te verhoed dat hulle geboelie word. Een uit elke tien leerders verlaat skole agv. boeliegedrag. Sestien present van leerlinge wat ondervra is, het erken dat hulle in die kuberrruim geboelie is. In Suid-Afrika het drie leerlinge jonger as 15 jaar vanjaar selfmoord gepleeg weens depressie of desperaatheid agv. boeliegedrag teen hulle.
Om hierdie euwel te probeer bekamp, het die Departement van Basiese Onderwys enkele jare gelede die Nasionale Veiligheidsraamwerk vir Skole aanvaar wat daarop gemik is om veiligheidsrisiko’s te identifiseer en uit te skakel in ooreenstemming met die norme van internasionale konvensies en wetgewing insake kinderregte en -veiligheid. Dit het egter ’n beperkte invloed gehad op boeliegedrag. Daarna het die department die aandag gevestig op Seksie 2 (4) van die Wet op Beskerming teen Teistering ingevolge waarvan kinders kan aansoek doen om ’n beskermingsbevel sonder die hulp van hul ouers. Skole oor die hele land het ook hul eie maatreëls ingestel om boeliegedrag te beperk, maar alle aanduidings is dit help net gedeeltelik. Boeliegdrag gaan voort, baie sonder dat die onderwysers daarvan bewus is. Dis inderdaad ’n kommerwekkende probleem,wat volgens alle aanduidings deesdae wêreldwyd voorkom.
Soos ons almal weet, word skoolboelies dikwels volwasse boelies. My gunsteling joernalis/skrywer in Afrikaans, Dana Snyman, het dit ’n jaar of wat gelede só verwoord: “Ons almal ken hom. Hy is die ou wat op skool suutjies van agter op die speelterrein sou kom en jou teen die kop klap. Kyk jy om, is daar niemand nie. Kyk jy weer, staan hy daar tussen die ander vir jou en glimlag. Hy is die poetsbakker wie se poetse wreed is. Dikwels was hy fisiek groter en sterker as die meeste van julle ander. Dat hy rugby sou speel, was onafwendbaar. Hy was altyd in die A-span, en in matriek sou hy dalk Cravenweek toe gegaan het. Hy was daardie geniepsige slot wat te laat by die losskrum indons, agter die skeidsregter se rug, en ’n ou wat ver van die bal af staan uit die pad sou skouer. Maar ná matriek sou hy rugby los, want nou was hy nie meer soveel groter en sterker as die meeste ander nie.
Miskien sou hy universiteit toe gaan, of by sy pa se makelaar-onderneming begin werk. Hy is daardie kêrel wat toe julle saam juniors by die werk was, op die Kerspartytjie by die base sou gaan sit het terwyl julle ander te veel drink en ligte skandes maak. Die een wat pal op die uitkyk is vir iets wat hy later teen jou kan gebruik. Die een wat knaend oor die sekretaresse of die assistent by die werk kla, maar ook die een wat die mees onmoontlike dinge van die sekretaresse of die assistent verwag. Die een wat daarop roem dat hy ’n perfeksionis is en die mense rondom manipuleer om dinge perfek vir hom te maak – die ewig ontevrede een wat in die restaurant by die kelner kla oor die simpelste goed.
Hy trou dikwels met ’n vrou veel jonger as hy. Of miskien trou hy met iemand van min of meer sy ouderdom, maar verlaat haar vir iemand jonger as hy wanneer sy gewig begin optel en plooie kry. Hy is nie regtig op soek na liefde nie. Hy is op soek na ’n diensmaagd wat bereid is om haar eie drome vir hom af te lê, in ruil vir ’n nuwe, klein Mercedes, ’n platinum-gimkontrak en skivakansies in die Alpe.
Hy is die een wat glo ’n man moet sy man kan staan, daarom sorg hy dat hy altyd ’n goeie prokureur het. Die een wat, indien hy wel een of ander groot misstap begaan en uitgevang word, tranerig by ’n pastoor tot bekering kom en na ’n Mighty Men-byeenkoms gaan en jou laat voel of jy hel toe sal gaan omdat jy nie ook daar was nie. Hy is die een wat alles weet en wat altyd reg is en as jy dit bevraagteken, jou met stilte straf. Almal van ons ken hom. Ons ly onder hom, of het al onder hom gely. Hy is die skoolboelie wat nie kan ophou boelie nie.”
Toe ek hierdie stuk van Dana lees, kon ek onmiddellik mense herken wat ek in my lewe ontmoet of kennis van geneem het. Van skooltyd af tot nou. Veral onder politici. Ook in die buiteland. No names no packdrill.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
