’n Onlangse internasionale opname getoon meer as 70% Suid-Afrikaners ly so aan stress dat hulle die lewenseise baie moeilik hanteer, en die helfte van hulle het verklaar dit was oor die voorafgaande jaar so erg dat hulle nie werk toe kon gaan nie.
Die navorsing is gedoen tydens ’n Ipsos-wêreldgesondheidsopname oor drie jaar, waarby meer as 23 000 deelnemers van 31 lande betrokke was. Die opname het gefokus op die uitwerking van stres en gevolglike depressieneigings op mense se daaglikse lewens. Dit het bevind stres het ’n beduidende nagatiewe uitwerking op Suid-Afrika se arbeidsmag.
Terselfdertyd het ’n afsonderlike verslag van Unicef getoon dat minstens 60% van jong Suid-Afrikaners op die een of ander manier hulp moes kry vir stresverwante toestande. Daar is bevind hindernisse op die pad na behoorlike behandeling het ingesluit gebrekkige gesprekke hieroor binne gesins- of familieverband, en onsekerheid oor waar hulp gekry kan word. Suid-Afrika het een van die hoogste persentasies geestesgesondheidsprobleme ter wêreld weens faktore soos armoede, werkloosheid, maatskaplike en politieke onrus en onsekerheid, en trauma agv. blootstelling aan geweld en mishandeling. Daarbenewens is toegang tot mense wat spesialiseer in die behandeling geestesongesteldhede uiters beperk.
As iemand wat self oor baie dekades weens beroepsredes by tye aan die uiterste stres blootgestel is, het die uwe met groot belangstelling ’n berig oor die onderwerp, wat vandeesweek aan ons gestuur is deur Afrikaans.com, gelees, en besluit om dit met lesers van die SC Fever te deel. Die artikel moes uiteraard verkort word weens ’n gebrek aan ruimte, maar vir diegene wat belangstel, die volledige berig is te sien by Afrikaans.com op die internet.
Dit is geskryf deur Anja van den Berg onder die opskrif ‘Die grootste mites oor stres’. Sy het gepraat met die Direkteur van Gesondheid en Menslike Prestasie ( CHHP ) by die Noordwes-universiteit en gaslektor by die UCL-Mediese skool in Londen, Professor Pieter Kruger. Hy wonder nog altyd waarom sekere mense floreer onder stres, terwyl ander verwelk. Prof. Kruger het besef dat almal – van sportsterre en hoëprofiel-besigheidsmense tot die gewone Jan Alleman op straat – met stresbestuur sukkel.
Hy sê die manier waarop ons oor stres praat, meng dikwels verwante, maar baie verskillende konsepte, wat dit moeilik maak om die unieke eienskappe van elk te onderskei. Mense gebruik dit as sinonieme, maar daar is ’n groot verskil tussen daardie terme. “Ons elkeen ervaar druk op grond van hoe ons ons omgewing interpreteer,” verduidelik hy. “Interpersoonlike verhoudinge, scenarios waarbinne gebeure afspeel en die fisiese omgewing speel alles ’n rol in hoe jou brein druk ervaar.
Mense ontwikkel angs as gevolg van ’n kombinasie van genetika, vorige ervarings en ongesonde denke of gedragspatrone. Angs is nie ’n ekstreme weergawe van stres nie, maar eerder ’n chroniese toestand van vrees wat nie altyd met werklike gevare verband hou nie. Dit is ’n denkwyse wat gekenmerk word deur ’n sterk fokus op bekommernis en die gevoel van naderende onheil, en het ’n ander kognitiewe basis as stres.
“Stres is die geestelike spanning wat veroorsaak word deur jou interpretasie van druk,” sê prof. Krugber. “’n Stresvolle situasie het ’n duidelike beginpunt, alhoewel nie altyd ’n duidelike eindpunt nie. In die praktyk ervaar ons egter selde net een enkele bron van stres – daar is dikwels ’n kombinasie van verskeie, gelyklopende stresfaktore wat saam opbou en ons spanning verhoog. Wanneer die spanning aanhou of wanneer ons nie effektiewe hanteringstegnieke het nie, kan stres uiteindelik lei tot uitbranding.”
Beteken dit dus ons moet stres sover as moontlik vermy? Beslis nie! “Stres is nie noodwendig sleg nie,” verduidelik Pieter. “Ons kan onderskei tussen eustres en distres. Eustres help jou om skerp en gefokus te bly. Dit gee jou energie en motivering om uitdagings met selfvertroue aan te pak en nuwe doelwitte te bereik. Omdat eustres nie oorweldigend voel nie, hou dit jou gemotiveerd om goed te presteer.
Dit is die soort stres wat jy ervaar wanneer jy ’n nuwe taak aanpak of ’n nuwe uitdaging wil trotseer.” Die probleem ontstaan egter wanneer stres nie net uit een bron kom nie, maar as verskeie uitdagings op dieselfde tyd op jou afkom, en dit oorweldigend begin voel. Hierdie tipe stres, wat distres genoem word, kan jou negatief beïnvloed, jou energie uitput en jou geestelike en fisieke welstand benadeel.
’n Interne balans is noodsaaklik vir ‘n gesonde benadering tot stres. Terwyl eustres jou aanmoedig om jou beste te lewer, kan distres jou vinnig in ’n toestand van uitbranding druk as jy nie daardie balans handhaaf nie. Die sleutel is nie om alle stres te vermy nie, maar om te leer hoe om dit te bestuur. Studie ná studie wys dat ons breine herhaalde pakkies van herlaaiing nodig het.
Prof. Kruger sê stres is onafwendbaar in ons lewens, maar ons kan leer om dit as ’n waardevolle hulpmiddel te gebruik en nie as ’n oorweldigende las te sien nie. Deur bewus te wees van die verskil tussen eustres en distres, en te fokus deurlopende herlaaiing, kan ons stres benut om sterker, meer gemotiveerd en geestelik meer veerkragtig te wees. Só maak ons stres ‘n bousteen vir sukses eerder as ’n struikelblok.
Vir meer besonderhede oor hierdie uiters belangrike onderwerp, gaan gerus na Afrikaans.com vir meer besonderhede.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
