Die afgelope tyd se gebeure in die Demokratiese Republiek van die Kongo het weer die soeklig op die Suid-Afrikaanse Weermag laat val, en die dood van 14 Suid-Afrikaanse soldate daar het die vraag laat ontstaan of ons weermag hoegenaamd opgewasse is vir sy taak. Dis algemene kennis dat vandag se weermag nie naastenby so goed is as dertig jaar gelede nie, iets wat duidelik blyk uit ’n artikel in die jongste Vrye Weekblad deur Ali van Wyk. Dit is redelik lank, maar ek deel die kern van die berig met lesers van die Fever.
Ali van Wyk het eerstens gesels met ’n professionele soldaat, ’n hoë offisier in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, oor sy lewe en loopbaan. Hy was voor 1994 ’n jong offisier in die ou weermag, die SAW. Van Wyk ken hom as ’n patriot wat altyd optimisties was oor Suid-Afrika, al het dit soms, veral in die weermag, met stote en kreune voortgesukkel. Hy’t altyd gesê groeipyne en probleme is onvermydelik in so ’n komplekse projek.
Hy het ook gesê hy aanvaar dat ’n weermag in Suid-Afrika ’n ander kultuur sal hê as ’n weermag in Brittanje of Duitsland, en dat hy dit geniet. Hy was egter vir die eerste keer swartgallig, waarskynlik ook weens die tragedie wat hom in die DRK afgespeel het. Hy kan hom nie meer blind hou vir die selfbelangrike, egoïstiese mentaliteit in die leierstruktuur van die weermag nie; die gholfdag-mentaliteit, het hy dit genoem, verwysende na die generaals wat verlede week op ’n feestelike gholfdag was terwyl 14 troepe in die DRK doodgeskiet is. “Die generaals dra nuwe uniforms, maar die troepe moet hulle eie boots koop Die generaals is so belangrik dat hulle nie met die troepe kan praat nie, as hulle in ’n eenheid aankom, daar erewagte is, letterlik rooi tapyte. Hulle word ge-escort, hulle kry geskenke, hulle word as so belangrik geag dat hulle ’n tipe Idi Amin-mite skep.”
Dit het Van Wyk laat besluit om met Prof. Abel Esterhuyse, die hoof van die Universiteit Stellenbosch se Departement van Strategiese Studies te praat. Prof. Esterhuyse het verklaar daar word die afgelope jaar gewaarsku dat die ontplooiing na die DRK ondeurdag was. Dit moes nie plaasgevind het nie. ‘Ons het nie die strategiese lugvermoë om ons magte oor daardie afstand te ondersteun nie. Dit het die afgelope week waar geword en ons moet ons militêre leierskap eties verantwoordelik hou vir die dood van ons soldate, omdat hulle gewaarsku is oor dié goed en hulle het hulle g*tte daaraan afgevee … ekskuus, maar ek raak die hel in hieroor …’
Hy was was hartseer om in die parlement met die sitting van die verdedigingsportefeuljekomitee te sien dat die politici die generaals en die minister probeer verantwoordelik hou vir die ontplooiing, terwyl die parlement daardie einste ontplooiing goedgekeur het! Hulle verstaan nie dat húlle die besluit geneem het nie, want hulle het dit goedgekeur, die parlement het dit goedgekeur, en nou vra hulle vrae asof die minister en die generaals daarvoor verantwoordelik is. As hy die weermag kon transformeer, het Prof. Esterhuyse gesê, sou hy sorg dat dit in struktuur, personeel en tegnologie doelmatig moet wees vir die take wat hy moet onderneem, en tweedens met die begroting ooreenstem. Nie die begroting wat hulle wil hê nie, maar die begroting wat hulle ontvang.
Prof. Esterhuyse meen die weermag kan klaarkom met sy huidige begroting, maar dan sal ongewilde besluit geneem moet word. ’n Gebrek aan rigtinggewende militêre leierskap is die rede. ‘n Studie het uitgewys hoe die oorsigrol van die parlement oor die afgelope 20 tot 30 jaar verskraal is tot die punt waar die uitvoerende gesag, die minister en die president saam met die weermag eintlik hulle agterente daaraan afvee. Hulle steur hulle nie eintlik aan die oorsig van die parlement nie, tewens, die weermag minag die parlement.
Oor die personeelsituasie het prof. Esterhuyse gesê ‘ons sit met ’n top-down-problematiek, ’n mushroom-agtige weermag, met ’n geweldige groot korporatiewe army in Pretoria. So, die Pretoria-army is uit verhouding uit groot teenoor die operasionele army, die sogenaamde field army. In stede van ’n driehoekhiërargie het ons eintlik nou ’n omgekeerde driehoek.Die personeelbestuur van enige weermag werk volgens die beginsel van ‘up or out’.
Dit kom daarop neer dat as ’n persoon nie bevorder word ná vier tot ses jaar in ’n rang nie, dan gee die weermag hom eintlik die boodskap dat hy uit die sisteem moet kom. Ons mense is eenvoudig nie uitbestuur uit die sisteem uit nie. So, daar sit troepe, korporaals, noem hulle op, wat nooit bevorder is nie, wat 50, 60 jaar oud is, wat by aftreeouderdom is, maar hulle is troepe. Daar’s vir seker nog pockets of excellence, die spesiale magte is een daarvan en daar’s nog van die infanterie-eenhede wat baie goed is. Een van die groot probleme is egter die oorlaaide topbestuur en die vaardigheidsvlakke van baie van die sogenaamde topmense. Die ander probleem is dis asof ons nie meer verstaan dat die soldaat met die wapen in die hand die essensie van ’n sterk weermag is nie.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
