Die siektes wat die meeste mans deesdae doodmaak
Die belangrikste is kardio-vaskulêre of hartsiektes, wat beroertes insluit, en die meeste sterftes wêreldwyd veroorsaak...
Soos die uwe se jare aanstap, pyne en skete toeneem, vriende en oud-kollegas vir allerhande kwale behasndel word en soms ook die tydige met die ewige verwissel, is dit onvermydelik dat jy wonder watter siekte uiteindelik jou aardse bestaan gaan beëindig. Daarom het ek meer as net die gewone belangstelling gehad in ‘n berig op die Citizen se aanlynkoerant waarin die algemeenste gesondheidsprobleme onder mans bespreek word.
In die berig wys die mediese versekeringsmaatskappy Affinity Health daarop dat siektes nie diskrimineer op grond van ras, agtergrond of geslag nie, en daar is siektes wat meer algemeen onder mans is as vroue. Die belangrikste is kardio-vaskulêre of hartsiektes, wat beroertes insluit, en die meeste sterftes wêreldwyd veroorsaak. Volgens die Wêreld-Gesondheidsorganisasie ly een uit elke drie mans aan die een of ander hartsiekte. Daarom is dit dringend noodsaaklik dat mans roetine-ondersoeke by hul dokter laat doen vir risiko-bepalings na aanleiding van cholestrolvlakke, bloeddruk en lewenstyl.
Nommer twee op die lys is chroniese obstruktiewe longsiektes wat ‘n normale lugvloei in en uit die longe verhoed. Die meeste van hierdie siektes begin met die sg. rokershoesie, wat dan mettertyd in lewensbedreigende siektes kan ontwikkel. ‘n Hoes kan ‘n aanduiding wees van longkanker, emfiseem of verwante kondisies wat normale asemhaling onmoontlik maak. Veral rokers moet hul longe gereeld laat toets vir tekens van kanker.
‘n Ander belangrike gesondheidfaktor onder mans, derde op die lys, is alkoholmisbruik. Mans is twee keer meer geneig as vroue tot fuifdrinkery, en volgens die Sentrum vir die Voorkoming en Beheer van Siektes, sterf meer mans weens alkoholmisbruik as vroue, en word meer tot hospitale toegelaat as gevolg daarvan. Die oormatige gebruik van alkohol verhoog die risiko van mond-, keel-, slukderm-, lewer- en kolonkanker. Alkohol kan ook impotensie en onvrugbaarheid veroorsaak.
Vierde op die lys van siektes onder mans is depressie wat soms lei tot selfmoord. Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angstigheidsgroep is daar elke dag gemiddeld 23 bevestigde selfmoordgevalle in die land. Van diegene wat selfmoordpogings aanwend het 70% geestesversteurings, waarvan die algemeenste depressie is. Die Suid-Afrikaanse Psigiatriese Vereniging berig vyf keer meer mans as vroue sterf weens selfmoord en hulle gebruik dikwels meer aggressiewe metodes. Van 13,774 selfmoorde wat in Suid-Afrika aangemeld is, was 10 861 mans en 2 913 vroue. Dit kom neer op ‘n koers van 37.6 per 100 000 vir mans, en 9.8 per 100 000 onder vroue. Mans is ook meer geneig om die negatiewe gevolge van depressie swak te hanteer en te onderdruk, met die gevolg dat baie van hulle nie behandeling kry of die toestand nie by hulle gediagnoseer word nie. Daar is verskeie maniere om depressie te beveg deur bv. mediese hulp, genoeg te slaap en oefening te kry, gedagtes neer te skryf en openlik met famlielede en vriende oor die saak te gesels.
Sirrose van die lewer is volgende op die lys van siektes wat mans se lewens beëindig. Die Mayo-kliniek verduidelik sirrose van die lewer is die laaste stadium van lewerletsels veroorsaak deur lewersiektes en toestande soos hepatitis en chroniese alkoholisme. Die lewer help met die vertering van maaltye, die opneem van voedingstowwe en die uitskeiding van gifstowwe. Soos die sirrose vererger, word die lewer se funksies aan bande gelê. Die skade wat deur sirrose aangerig is, kan nie ongedaan gemaak word nie, maar bykomende skade kan verhoed word indien die diagnose betyds gedoen word.
Mans is ook meer geneig om Tipe 2-suikersiekte te kry as vroue. Dis omdat mans meer vet in hul abdominale area het as vroue. Onbehandelde suikersiekte kan die senustelsel en niere beskadig, en selfs hartsiektes of beroertes veroorsaak. Dit lei ook tot lae testosteroonvlakke en seksuele disfunksie, wat weer angstigheid en moedeloosheid aanmoedig. Die doeltreffendste manier om suikersiekte te bekamp is om oefening te kry en gesond te eet. Indien daar ‘n familiegeskiedenis van suikersiekte is moet gereelde mediese toetse gedoen word.
Laaste op die lys is velkanker. Die Amerikaanse Dermatologiese Akademie berig twee keer meer blanke adolessente en jong volwasse mans sterf aan melanoomverwante oorsake as vroue. Die kanse dat mans voor 50-jarige ouderdom velkanker sal ontwikkel is baie groter as vir vroue. In ‘n sonnige land soos Suid-Afrika moet doelbewuste pogings aangewend word om sonskade op die vel te vermy.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page

