Stiltetyd: Angs
Die tye waarin ons lewe met wêreldwye onsekerheid en onstabiliteit werk verswarend in.
Angstigheid en vrees is emosies wat mens kan lamlê. Tot in my gebeente is ek beangs. Tot in my siel is ek heeltemal vreesbevange. So lui die woorde van Psalm 6 verse 3 en 4 in die 2020-vertaling van die Bybel. Angs en vrees is twee gevoelens waarmee alle mense, maar ook gelowiges soms mee worstel. Die tye waarin ons lewe met wêreldwye onsekerheid en onstabiliteit werk verswarend in. Terroriste-aanvalle, spinnekoppe, hongersnood, oorlog, ekonomiese swaarkry is alles faktore wat vrees en angs aanjaag. Dan is daar ook nog dinge soos toekomsangs, vrees vir die dood en ook ongegronde vrees vir vermeende bedreigings. Dis deel van menswees om bang te wees in die aangesig van hierdie bedreigings.
Angs word dikwels beleef as gevolg van bedreigings wat as onvermydelik ervaar word. Die digter van Psalm 6 is blootgestel aan ’n lewensbedreigende situasie. Ons merk dit ook op uit die opmerking dat hy moeg is van sy eie smart. Sy oë is dik geswel van verdriet. Alhoewel hy melding maak van God se straf, vind ons nie ’n spesifieke verwysing na enige oortreding in die Psalm nie. Dis eerder n aanduiding dat hy hom voor God verootmoedig en sy guns soek.
Die psalm is ’n gebed om genade en genesing. Hierin kan ons hom nadoen. Niemand het rede om anders as met leë hande voor God te verskyn en om genade te smeek nie. Nie ons verdienste nie, maar God se getrouheid staan op die voorgrond. Die Bybel is vol verhale van mense wat byvoorbeeld na Christus toe gekom het, soos die blinde man langs die pad wat hom totaal en al op Jesus se barmhartigheid en genade verlaat het vir herstel van sy visie.
Psalm 6 kan gebid word deur almal wat oorweldig voel deur fisiese pyn, innerlike seer, vrees vir die toekoms, angstigheid oor jou verhouding met God en ja ook wanneer jy met die dood of situasies van doodsbenoudheid gekonfronteer word. Op die agtergrond van die Psalm lees ons van die Psalmis se vyande. Interessant is hulle nou vreesbevange nadat hy hom tot God gewend het. Waar vind jy hulp en troos in hierdie onseker tye? By God alleen?
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
