South Coast Fever

Wouter se Watergat

Laat Saterdagmiddag was die Watergat vol, maar namate die wedstryd gevorder het, het ons harte in ons skoene gesak.

Die blydskap in die Watergat oor die prestasies van ons rugby- en krieketspelers het verlede week geen perke geken nie. Ons het vasgenael voor die groot skerms gesit toe die Blou Bulle verlede Vrydag die feitlik onmoontlike verrig het deur die menere van Ierland, Leinster, naelskraap te klop onderwyl ons die spanning skaars kon verduur. Saterdag het ons gehoop die Stormers kon Ulster wen sodat die eindstryd van die Verenigde Rugby-kampioenskap in Kaapstad kon plaasvind om die Noordelike Halfrond te wys wie’s baas.

Laat Saterdagmiddag was die Watergat vol, maar namate die wedstryd gevorder het, het ons harte in ons skoene gesak. Albei spanne, veral die Stormers, het swak gespeel met ‘n skeidsregter wat onpartydig was: So onpartydig dat hy albei spanne benadeel het. Met een minuut speeltyd oor het ek besluit dis verby, en kombuis toe vertrek om te kyk of alles daar volgens plan verloop. Op pad terug in die toilet het pandemonium in die Watergat losgebars. Ek was net betyds om Manie Libbok met die doelskop te sien slaag. Wonderlike oomblik.

Toe hierdie rubriek geskryf is, het die Proteas reeds twee wedstryde van hul T20-reeks teen Indië, een van die beste spanne ter wêreld, oortuigend gewen. Van die manne wat destyds met die Quinton de Kock-kontroversie verklaar het hulle kyk nie weer Proteawedstryde nie weens die ‘politiek in sport’, het lekker saamgekyk en hul vir Oom Pottie vervies toe hy hulle vra wat van hul ondernemings geword het. Hy het destyds voorspel alles sou oorwaai. Kyk my dit het.

Ons storie van die week is nie nuut nie, maar laat my elke keer lag. Ek het dit verlede week weer by Gert Griessel van Manaba gehoor: ‘n Man se vrou kom nie terug van ‘n inkopierit wat sy die vorige dag onderneem het nie. Hy aanvaar sy sal die volgende dag haar opwagting maak. Toe dit nie gebeur nie, gaan hy polisiestasie toe.

Man: My vrou is weg. Sy het gister gaan inkopies doen en is nog nie terug nie. Sersant: Haar lengte? Man: Nie regtig seker nie, gemiddeld vir ‘n vrou, so l.5 meter? Sersant: Gewig? Man: Weet nie juis nie. Het baie gewissel. Sersant: Haarkleur? Man: Dit wissel, sy verander dit elke paar maande. Waarskynlik donkerbruin. Sersant: Wat se klere het sy aangehad? Man: Dit kon ‘n broekpak gewees het, of ‘n rok. Sersant: Het sy ‘n voertuig gehad? Man: Sy het met my splinternuwe ingevoerde Ford Ranger F-150 King Ranch gery. ‘n Viertrek, V-8-masjien met ‘n turbo-aanjaer. Die Ford het ‘n sesgang-handratkas. Die sitplekke is van spesiale Bisonleer wat jy net in Amerika kry. Die vloermatte is van spesiale rubber, en sy sleephak is van versterkte staal. Hy het die nuutste model radio en DVD-speler, ses plekke vir koeldrankhouers. Die uitlaatstelsel is iets om te sien en hoor. Daarbenewens het ek allooiwiele ingevoer, laat aansit met net die beste Desert Dueller-bande. Hy het ‘n ligte skrapie aan die linkerdeur wat gister veroorsaak is…….my vrou…….my vrou het haar misgis…….my vrou…….. Die man begin onbedaardelik snik. Die sersant sit sy hand op die man se skouer. ‘Moet nou nie bekommerd wees nie, my maat. Hou net moed. Ons het fantastiese speurders. Ons sal jou Ford Ranger kry.’

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button