Stiltetyd: Verskuif jou fokus
Die Psalmis in Psalm 7 praat van sy agtervolgers wat hom wil verskeur en wegsleep soos ’n leeu sy prooi wegsleep na hy dit doodgebyt het.
Ons sien dit vandag afspeel in Europa maar oral oor die wêreld. Mense wat in konflikte betrokke raak soos oorlog regverdig altyd hul optrede. Hulle doen dit vir ’n goeie saak of om ander se regte te beskerm, of so sê hulle. In erge gevalle sal hulle spog hoe hulle hul vyande agtervolg en uitoorlê. Dit is beelde wat mense herinner aan diere wat op die jag uit is. Die Psalmis in Psalm 7 praat van sy agtervolgers wat hom wil verskeur en wegsleep soos ’n leeu sy prooi wegsleep na hy dit doodgebyt het. Wanneer mens sulke intense teenstand ervaar is dit menslik om na binne te keer en te vra wat jy gedoen het om soveel haat te verduur? Dalk kleef daar onreg aan jou hande, dalk het jy onnadenkend iemand te nagekom. Dit is wat Dawid doen, selfondersoek. Die Psalm maak gebruik van verskillende kontekste om sy dilemma te verduidelik. Eers voel hy of hy op jag gemaak word. Dan voel dit weer vir hom of hy in ’n hofgeding betrokke is en dat sy naam deur die modder gesleep word.
Die leser wat hierdie Psalm lees mag hom of haarself dalk in ’n situasie van bedreiging bevind en voel dat hy of sy uitgelewer is aan omstandighede of kwaadwillige mense. Wat die Psalmis doen, is om tot God te bid dat hy sal laat reg geskied aan sy situasie van magteloosheid en bedreiging. Hy stel sy vertroue daarin dat God ’n regverdige regter is. Tegelykertyd troos hy hom daaraan dat wie ’n put vir ander grawe en dit uithol, val dikwels self in die vangkuil wat hy gemaak het. Dit is ’n waarskuwing dat ons nie te haastig moet wees om ander se ondergang te soek nie. Miskien ervaar jy vandag iets van wat die Psalm beleef het. Ten regte of ten onregte bevind jy jou in n situasie wat bedreigend is. Dit kan die teenstand van mense wees of omstandighede wat jou kragte tap. As ons ’n slag ons fokus van die teenstanders na God toe skuif verander die prentjie. Dan word brullende leeus mense wat in ’n vangstrik gevang is wat hul vir ander gegrawe het. Verskuif jou fokus!
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
