South Coast Fever

Wouter se Watergat

Oom Pottie se opmerking was dat al hierdie gebeure saamwerk om Suid-Afrikaners se psiges en daaglikse optrede te beïnvloed...

Ons besoekers die afgelope week het, soos gewoonlik, oor allerhande onderwerpe hul menings uitgespreek, individue oor die hele spektrum uitgeskel, hul bekommernisse uitgespreek, en slegs hier en daar was daar ‘n positiewe uitlating. Oom Pottie en ek het een stil aand saam met enkele besoekers, die verskillende Tv’s ingeskakel op Suid-Afrikaanse en oorsese nuusdienste, en ‘n uur bestee om na die verskillende berigte te kyk. Uiters depressief.

Oom Pottie se opmerking was dat al hierdie gebeure saamwerk om Suid-Afrikaners se psiges en daaglikse optrede te beïnvloed. Die gebeure soos bv dié in die Oekraïne en die internasionale ontwrigting wat Covid-19 veroorsaak het, hier by ons die wanbestuur van die ANC en alles wat daarmee gepaard gaan bv. die onthullings dat president Ramaphosa dalk vervolg kan word, skep ‘n diepliggende onsekerheid en opgekropte woede oor die toekoms. Belangriker nog, dit skep ernstige verdelings in ons gemeenskap, wat weer lei tot onder meer moedeloosheid, aggressiewe gedrag, en veral erge beledigings op die sosiale media teenoor diegene wat nie met hulle saamstem nie. Hierdie tendense was duidelik waarneembaar tydens die onlangse gesprekke hier in die Watergat. Van die normaal gemoedelike besoekers het warm onder die kraag geraak en van die redenasies was vol opgekropte emosie. Net die vraag of president Ramaphosa moet probeer vasbyt of verwyder word, het gereeld verbale konfrontasies veroorsaak. Voeg hierby ons plaaslike probleme met ‘n Ugu wat ineengestort het, en die prentjie word donkerder.

Nietemin, ek self is vol moed dat daar binnekort positiewe wendings gaan kom om die swaarmoedigheid te verlig. Dalk verbeter die Sharks ook hul vertonings op die rugbyveld. Geluk aan die Stormers en die Pumas met hul skitterende prestasies. Die verslaentheid op die gesigte van die Cheetah-ondersteuners en spelers, en die emosionele Jimmy Stonehouse en sy Pumas was iets om te sien.

Danny Delport van Bloemfontein het ons swaarmoedigheid verlig met die volgende: ‘n Sexy spraakterapeut vestig haar in die Kaap. Sy het ‘n groepie hakkelende jong mans, maar maak nie eintlik vordering met hulle nie. Uiteindelik besluit sy om ‘n ongewone eksperiment te probeer: Sy kom na die groepsessie met sexy klere aan, en beloof as enige van die jongmans in die groep vandag ‘n sekere woord kan uitspreek, sy hom ‘n Franse soen sal gee as beloning. Hy moet die dorp waar hy gebore is, se naam kan sê sonder om te hakkel. Opgewonde probeer die eerste ou: ‘K-k-k-k-k-Kaapstad!’ en sink moedeloos op sy stoel neer. Die tweede ou staan op en sê: ‘MmmmmmmMalmesbuRy!’ en slaan moedeloos op sy heup. Die derde ou haal diep asem en sê: ‘Durban!’ ‘Mooi!’ sê die spraakterapeut en soen hom ‘n volle minuut lank met oorgawe, soos sy beloof het. Toe sy klaar is, vra sy: ‘En wat sê jy daarvan?’ Waarop hy uitasem antwoord: ‘…..v-v-v-v-v-ville!’

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button