KZN-munisipaliteite se soveelste powere ouditvertonings
"Dis lankal reeds bekend dat daar groot probleme is, en die provinsie se mense sou met reg kon verwag dat daar teen hierdie tyd ‘n verbetering sou wees."
Die Ouditeur-Generaal, Tsakani Maluleke, se jongste munisipale ouditverslag toon weereens in watter gemors KwaZulu-Natalse munisipaliteite hulleself bevind. Dis lankal reeds bekend dat daar groot probleme is, en die provinsie se mense sou met reg kon verwag dat daar teen hierdie tyd ‘n verbetering sou wees. Helaas.
In haar verslag bevind die OG dat slegs 22% van die 54 provinsiale munisipaliteite in die provinsie finansiële state van goeie gehalte ingedien het. Sewe van hierdie munisipaliteite se status as lopende sake oftewel ‘going concerns’ is ernstig in die gedrang. Een van hulle is ons eie Ugu- distrikmunisipaliteit. Die ander is Mpofana, Uthukela, Umsunduzi, uMkhanyakude, Ulundi en Newcastle. Daarbenewens het 51 van die 54 nie voldoen aan verskeie bepalings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur nie. Dertig van hulle het kontrak- en verkrygingswetgewing oortree, en 38 het nie daarin geslaag om onregmatige uitgawes te keer nie. In 26 van hierdie munisipaliteite was daar geen optrede teen amptenare wat waarskynlik skuldig is aan wandade nie. Die totale wanbestede bedrag deur KZN se munisipaliteite is R3.4-biljoen, waarvan eThekwini alleen se aandeel R770-miljoen rand is – net meer as 16% van die stad se totale begroting.
Maluleke sê KwaZulu-Natal het ‘n ernstige probleem met voorsieningskettingbestuur, rekordhouding is swak, en daar is ‘n verdraagsaamheidskultuur geskep waarbinne oortredings plaasvind. Die meeste (89%) van die munisipaliteite sukkel om voorsieningsprosesse behoorlik te bestuur, met die gevolg dat wanbesteding gereeld voorkom. Faktore wat tot hierdie swak vertonings bydra, is voortgesette patronaat-netwerke, politieke onstabiliteit, diefstal, en ontplooide kaders wat nie weet wat hulle doen nie. Die OG wys daarop ouditverslae getuig van die relatiewe ‘gesondheid‘ en stabiliteit van ‘n munisipaliteit. In KZN het die munisipaliteite met die beste ouditverslae oor die afgelope vyf jaar konstant skoon of ongekwalifiseerde oudits gekry. Van die 10 munisipaliteite in KZN wat die swakste ouditverslae gekry het, is agt onder administrasie.
Oklahamba het baie goed gevaar, en die ander wat gepresteer het, is uMhlathuze, die King Cetshwayo-distrik, voorheen bekend as die uThungulu-munisipaliteit, Dr Nkosazana Dlamini Zuma, uMuziwabantu en ons eie Ray Nkonyeni. Dis bekend dat Ray Nkonyeni geruime tyd reeds gereken word as een van die bes-bestuurde munisipaliteite in KZN. Hierdie groep het goed gevaar tov. die nakoming van voorskrifte, rekordhouding, bestedingsbeheer, goeie voorsieningsprosesse, bestedingsbeheer en risikobestuur. Die tien munisipaliteite wat die swakste gevaar het, veral in die bg. kategorieë, is Abaqulusi, Msunduzi, die uThukela-distrik, Inkosi Langalibalele, Nquthu, die uMkhanyakude-distrik, Mtubatuba, Mooi-Mpofana en die uMzinyathi-distrik. Die aandag is sedert 2016 en 2020 gereeld op hierdie munisipaliteite wat die swakste gepresteer het, gevestig. Hulle is as munisipaliteite in ‘finansiële nood’ verklaar. Om hierdie beskrywing te verwerf moet ‘n munisipaliteit baie swak vaar tov. sewe uit dertien aanwysers, onder meer ontoereikende kontantvloeibeheer, toenemende skuld en krediteure, power herstelwerk en onderhoud aan hul infrastruktuur, te min geld vir hul begrotings, en swak ouditverslae.
Die ouditverslae van 2020/21 dek die periodes van die vorige politieke administrasies waarvan die termyne in November 2021 geeindig het na die munisipale verkiesings regoor die land. Ugu is nog nie onder administrasie geplaas nie, ten spyte daarvan dat hierdie munisipaliteit, wat geruime tyd reeds ‘n swak diensleweringsrekord het, en deur die OG uitgewys is as inderwaarheid bankrot. Daarenteen is IVP-munisipaliteite, waar tussenverkiesings maklik bewindsveranderings kan meebring, konstant onder druk. Dit het meegebring dat rade wat deur opposisiepartye beheer word, hulle gereeld wettiglik na die howe moet wend om pogings deur die ANC-provinsiale owerheid om hulle onder administrasie te plaas, te keer.
Dit is beketenisvol dat KwaZulu-Natalse munisipaliteite, al het hulle swak gevaar in vergelyking met ander in die land, behalwe Wes-Kaapland, reg in die middel is. Nie te sleg nie. Nie te goed nie. Dit is nogmaals ‘n bewys van hoe die land die afgelope jare onder die ANC-bewind, in die algemeen agteruit gegaan het. Daar is ook geen aanduiding dat die dienslewering in Ugu binnekort gaan verbeter nie, ten spyte van beloftes, besoeke en beplanningsvergaderings van senior ANC-amptenare en politici met die Ugu-bestuur.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
