Donald Trump: Is die net besig om stywer te span?
Een van daardie verwikkelings wat jou laat besef: Hier is ‘n sg. ‘game changer’.
Een van die insiggewendste gebeurtenisse in my joernalistieke loopbaan was verlede week se openbare sittting van die Amerikaanse kongres se kommissie van ondersoek na die gewelddadige gebeure om en in die Kongresgebou op 6 Januarie verlede jaar. Een van daardie verwikkelings wat jou laat besef: Hier is ‘n sg. ‘game changer’.
Tot met hierdie sitting was dit duidelik dat dinge gebeur het wat reeds in boeke deur mense soos die bekroonde joernalis, Bob Woodward en voorste politici van die Demokratiese Party uitgelig is, maar waaroor daar nog redelike detail-onduidelikheid was. Die gewese Withuis-assistent Cassidy Hutchison se getuienis onder eed het egter talle onduidelikhede uit die weg geruim. Sy was ‘n top-assistent van oud-president Donald Trump se personeelhoof, Mark Meadows, en het binne twee ure, onder eed en baie reguit sonder om doekies om te draai, skokkende inligting verskaf van wat daardie dag agter die skerms gebeur het. Haar getuienis het onder meer daarop gedui dat oud-president Trump besef het geweld kon op die dag uitbreek, dat hy dit waarskynlik goedgekeur het, en sy ondersteuners aangepor het om na die Kongresgebou op te ruk, wel wetend dat van hulle bewapen was. Hy het beplan om hom by hulle aan te sluit. Hy het aan van sy top-personeel gesê vise-president Mike Pence verdien die slagpsreuk ‘Hang Mike Pence’, en die oproermakers doen niks verkeerd nie.
Hutchinson se getuienis het verskeie nuwe perspektiewe verskaf oor gebeure wat reeds voor 6 Januarie bekend was. Op 2 Januarie het Trump se prokureur en getroue ondersteuner, Rudi Giuliani, aan Hutchinson gesê ‘ons gaan na die Kongresgebou toe, die president gaan daar wees, dis wonderlik.’ Toe sy Meadows daarna vra, het hy verklaar ‘dinge kan baie sleg verloop.’ In die daaropvolgende dae het die veiligheidsdienste die Withuis herhaaldelik laat weet gebeure kan op 6 Januarie handuit ruk, maar nòg Trump nòg Meadows het enigiets daaraan gedoen. Dit dui nie net daarop dat die Withuis geweet het van die gevaarlike risiko dat geweld kon uitbreek nie, en die vraag ontstaan of die geweld inderwaarheid beplan was.
Op die oggend van die onluste, toe Trump ingelig is dat mense in die skare wat gewag het op sy toespraak buite wapens by hulle het, het Hutchinson die president hoor sê ‘Ek gee nie om of gewapen is nie. Hulle is nie hier om my leed aan te doen nie.’ Dit is die sterkste aanduiding tot dusver dat die president regstreeks en vooraf geweet het dat sy ondersteuners op geweld voorbereid was. Trump het beplan om nà sy toespraak na die Kongresgebou toe te gaan om hom by die oproermakers aan te sluit. Hy het self in sy toespraak so gesê. Hutchinson is deur ‘n senior Withuis-assistent ingelig dat twee veiligheidsmanne saam met Trump sy ampsmotor terug na die Withuis toe wou bestuur omdat hulle besef het watter katastrofiese gevolge Trump se aansluiting by die oproermakers sou hê. Volgens die assistent het Trump in ‘n woedebui probeer om die stuurwiel te gryp. Hierdie getuienis het Hutchinson nie self beleef nie, en die veiligheidsmense het reeds aangedui hulle is bereid om onder eed te getuig dit het nie gebeur nie. Toe hierdie berig geskryf is, het hulle dit nog nie gedoen nie, en dis nie bekend wat presies hulle gaan ontken nie. Daar is egter betroubare bronne in die veiigheidsdienste wat reeds verklaar het dis weke lank in hul kringe bekend dat daar wel ‘n konfrontasie in die ampsmotor was. Trump het glo in ‘n stadium woedend uitgeroep ‘I am the f*cking president of the United States, nobody can tell me where I can or cannot go’.
Nadat Trump na die Withuis teruggekeer het, het Hutchinson ‘n gesprek tussen Trump, Meadows en ‘n regsverteenwoordiger van die Withuis, Pat Cipollone, gehoor waartydens Cipollone aan Meadows gesê het Trump dink Mike Pence verdien die dreigemente teen hom.
Alles dui daarop die geweld op 6 Januarie is doelbewus beplan, dat president Trump wou hê die gewelddadige oproermakers moes die Kongresgebou namens hom aanval, en met geweld die sertifisering van die verkiesingsuitslag deur Mike Pence en die Kongres keer sodat hy as president kon aanbly. Niks anders nie as ‘n soort staatsgreep, en totaal onwettig. Die vraag is of daar genoeg getuienis is sodat die Departement van Justisie Trump kan aankla. Myns insiens nie in hierdie stadium nie, en die ondersoekkomitee sal waarskynlik eers verseker dat daar ‘n waterdigte saak is nadat nog mense getuig het. Die aanduidings is dat Hutchinson se getuienis meer top-Republikeine in die Trump-dampkring sal oortuig om ook te getuig, want indien dinge verder verkeerd loop, kan hulle ook aan die verkeerde kant van die gereg wees.
Wat my totaal verbaas, is dat daar ‘n beduidende aantal mense in Suid-Afrika is, meesal Afrikaanssprekendes, wat nog steeds weier om te aanvaar dat Trump iets verkeerd gedoen het. Selfs die verkiesing gewen het. Hulle hou vol met aanvalle op President Biden, ongelukkig nie die indrukwekkendste president in Amerika se geskiedenis nie, en boonop ‘n gevangene van baie faktore waaraan hy niks kan doen nie. Asof Biden se swak vertoning Trump se wandade aanvaarbaar maak. Onverstaanbaar.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
