South Coast Fever

Stiltetyd: Ongevraagde advies

Die raad wat ons gee aan mense kan hulle of help of van die wal af in die sloot help...

Elkeen het al te doen gehad met mense wat ongevraagde advies aan ons gee. Ons het waarskynlik dieselfde al gedoen. Ons sê iets soos: “Ek weet ek praat uit my beurt uit, maar…” Ongevraagde advies kan dalk goed bedoel wees, maar as iemand dit byvoorbeeld as ’n aanval op sy of haar lewenstyl beskou kan hy dadelik begin om homself te verdedig. Partykeer is dit ook net nodig om eers goed te luister na wat die persoon se nood is wat hy of sy kommunikeer. Onthou dat selfs goed bedoelde raad die teenoorgestelde uitwerking kan hê. Die raad wat ons gee aan mense kan hulle of help of van die wal af in die sloot help. Goeie luisteraars is skaars. Raadgewers is volop.

ALSO READ: Stiltetyd: Die aarde, ons verantwoordelikheid

In Psalm 11 het ons met ongevraagde advies te doen. Die digter was in die nood. Sy vyande het hom agtervolg en wou hom uitroei. As die vriende die situasie ontleed, dan kom hulle tot die gevolgtrekking dat daar net een uitweg was: die digter moes na die berge vlug. Soos ‘n voël moes hy vlug en in die berge gaan skuil waar sy vyande hom nie in die hande sou kry nie. Vlug en kruip weg, dis al hoe jy jou lewe kan red! Dis duidelik dat hulle nie geluister het toe hy getuig het dat die Here vir hom ’n skuilplek is nie.

Die Psalmis kon hom gesteur het aan hierdie advies en dan sy geloof en vertroue in God prysgegee het. Hy doen die teendeel en gee self goeie advies. Psalm 11 eindig met ’n belofte aan almal in nood en wat die Psalmis self ervaar het: “Opregtes sal Sy teenwoordigheid ervaar.” Psalm 11 is uiters aktueel. Hoe reageer ons op advies en raad? Wat is die raad wat ons gee? Of sou ons ons dalk op die Here verlaat wanneer ons raadop is? Kan ons ook sê: ek sal nie soos ‘n voël vlug nie, want die Here is hier; Hy het my lief en is by my. Hy sien wat aan die gang is en is nie passief nie. By Hom is ek veilig. Die Here is by my, omdat ek deur sy genade regverdig en opreg leef.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button