Wouter se Watergat
Om hierdie rede hou ons ons vandeesweek by sport, en in die besonder Wimbledontennis en rugby...
Nog steeds vakansietyd, en ek moet verklaar, ek het meer besoekers verwag. Maar ons kla nie, en dis lekker om weer die gesigte te sien wat laas voor die Covid-pandemie hier ingeloer het.
Die Suid-Afrikaanse politiek, wat by die dag meer neerdrukkend raak, die oorlog in die Oekraïene, wat self nie opbeurend is nie, en die kommissie van ondersoek na die gebeure in die Amerikaanse Kongresgebou op 6 Jan verlede jaar, ook nie goed vir die gemoed nie, was die vernaamste onderwerpe van bespreking. Om hierdie rede hou ons ons vandeesweek by sport, en in die besonder Wimbledontennis en rugby. Verlede Sondag was die Watergat propvol besoekers wat eers vroulief se tradisionele Britse disse Beef Wellington of Shepherd’s Pie geniet het, gevolg deur aarbeie en room, en vir diegene wat belang gestel het, ‘n glasie of twee Pimm’s no 9. Daar was selfs komkommer-toebroodjies vir diegene wat mooi gevra het.
Die eindstryd in die mans-enkelspel was insiggewend in dié sin dat dit baie van ons die eerste keer behoorlik blootgestel het aan die kontroversiële Nick Kyrgios van Australië wat blykbaar moeilikheid maak net waar hy gaan. Kyk, die man kan tennis speel. Hy het ‘n verwoestende afslaan, maar wat ‘n onaangename mens! Hy vloek en skel op toeskouers, soms op die lynregters en selfs die skeidsregter, loop met donderweer op sy gesig rond, pet agterstevoor op die kop, en mompel deurentyd, selfs wanneer hy met ruspouses op sy stoel sit.
Soos een van die kommentators verklaar het, Kyrgios is presies die teenoorgestelde van die koel en kalm Novak Djokovic, en sal baie beter vaar indien hy sy emosies kan beheer. Ewenwel, almal was bly dat hy nie gewen het nie, maar ook terselfdertyd aangenaam verras oor hoe goed die persoonlike verhouding tussen hom en Djokovic is, en hoe welwillend hy kan wees as hy wil, soos tydens die trofee-oorhandiging geblyk het. Ek het gewonder hoeveel van sy manewales op die baan nie doelbewus is nie. ‘n Oud-tennisspeler van Amerika het hom bestempel as ‘n ‘crowd magnet’. Magneet of nie, min tennisliefhebbers hou van hom. Diegene wat hom wil sien, herinner my aan toeskouers by motorwedrenne wat uitsien na ongelukke.
Rugby? Wat kan ‘n mens nou sê oor die tweede toets teen Wallis? Verbeeldinglose rugby van die Bokke se tweede span teen die span wat tweede swakste in die Ses Nasies-toernooi gevaar het? Ons kan maar net hoop dat die beste spelers uit die eerste twee toetse vir Suid-Afrika gekies gaan word en dat daar in die derde toets ‘n metamorfose gaan wees met ‘n oorwinning van minstens 15 punte. So nie lê daar vir ons baie verdriet vorentoe.
Ons loopstorie kom van Jan Groenewald van Pretoria. Twee ouens wat vir die ander span kolf, loop in die park en sien ‘n vrou alleen deur die bosse stap. Die een sê: “Kom ons val haar aan!” “Ja!” sê die ander een. “Hou jy haar vas, dan doen ek haar hare…”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
