Stiltetyd: Hoe lank nog, Here?
In ’n stabiele omgewing waar alles min of meer volgens plan verloop is dit nie vreemd dat gelowiges nie met sulke intense vrae worstel nie.
Daar is ’n ou-ou lied wat min of meer so lui: “Voel jy soms of die Here te ver is…” Daar is tye waar die nabyheid en sorg van God voel soos ’n werklikheid. Daar is ander tye wanneer dit voel of God ver is. In Psalm 13 vra die Psalmis aan God die vraag: “Hoe lank nog, Here? Gaan u my vir altyd vergeet?” In die tye waarin ons leef in die wêreld is daar sekerlik talle gelowiges wat hierdie sentiment met die Psalmis identifiseer.
In ’n stabiele omgewing waar alles min of meer volgens plan verloop is dit nie vreemd dat gelowiges nie met sulke intense vrae worstel nie. Dit is wanneer jou lewe ontwrig word dat sulke vrae aktueel word. Sommige se seerkry is bekend. Ander se seer is van so ‘n aard dat hulle dit goed kan wegsteek vir mense. Sommige mense se seerkry is soos die digter s’n, iets wat oor jare kom. Dalk is jou seerkry in jou huwelik of gesin. Dit is dalk ‘n geheim wat jy van baie jare terug met jou saamdra. Dit is dalk ‘n seerkry wat ander mense afstoot, wat jou onaanvaarbaar vir die res van die gemeenskap maak.
Die Psalm begin as ’n klaaglied en dit lyk of die haglike situasie waarin hy hom bevind vir hom onuithoudbaar word. Hy moes sy eie planne begin maak om te oorleef. Hy het hom dood bekommer oor die situasie. Dit het vir hom gevoel of hy geen lewensdoel meer het nie. Sy diepste nood lê egter op godsdienstige vlak. Het die Here hom nou ook vergeet?
As jy jouself vandag met die psalmis se ervaring kan identifiseer, sal jy ook met sy gebed in vers 15 en 16 kon identifiseer: “Maar ek vertrou op U Here,” en: “My tye is in u hand.” Sy nood het hy in gebed voor die Here gaan lê. Hiervan vertel vers 6. Die hand van die Here is deur die Bybel ‘n teken van redding uit nood. Sy hand is sag en simpatiek genoeg om jou pyn en jou seerkry te vertroetel en te genees. Soos Christus aan die kruis kan jy jou lewe in God se hande oorgee, vandag.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
