South Coast Fever

Stiltetyd: Swart en wit denke

In Christus sien ons dat God mense se lewens herskep dat hulle weer aan God se doel beantwoord.

Ons is soms geneig om in terme van swart of wit te dink. Swart en wit denke word soms getipeer as die geneigdheid om kragtens uiterstes te dink of te redeneer. Iemand kan byvoorbeeld homself wysmaak dat hy die suksesvolste persoon in die lewe is of homself sien as die grootste mislukking. Wanneer jy oor ander mense praat is jy geneig om van ander te praat asof hulle die duiwel in lewende lywe is of die engel Gabriël.

Dit is moeilik om mekaar halfpad te ontmoet as jy in sulke uiterstes dink of redeneer. Woorde wat in sulke gesprekke gebruik word is byvoorbeeld: “Altyd, nooit, onmoontlik, perfek.” Wie net kragtens uiterstes dink sal byvoorbeeld almal van ’n sekere groep oor dieselfde kamp skeer. “Hulle maak mos almal so.” Psalm 14:3 maak hom skynbaar ook hieraan skuldig.” Almal het afgedwaal, saam het hulle ontaard. Daar is nie een wat goeddoen nie, selfs nie een nie.” Dit klink of die Psalm daarmee die hele mensdom afskryf as ongeneeslik en onmoontlik om te rehabiliteer. Of dalk nie?

Psalm 14 teken ’n donker prentjie van die wêreld. In so ‘n wêreld word God weg geredeneer en sê mense in hulle harte dat daar geen God is nie. Wanneer ons na die brutaliteit van onlangse gebeure in Suid-Afrika kyk soos die wrede uitwissing van ’n hele gesin, die dood van jongmense in ’n taverne, voortslepende korrupsie, kan jy dalk tot die gevolgtrekking kom dat daar regtig geen goed in die wêreld is nie.

Tog spreek die Psalm sy hoop uit dat daar uit Sion redding sal kom vir die Here se mense. In Christus sien ons dat God mense se lewens herskep dat hulle weer aan God se doel beantwoord. Wie Christus navolg verbind ander se wonde, reik uit na mense op die rand van die samelewing, glo en werk vir versoening tussen mense, reik uit na andere en is nie tevrede met onoorbrugbare klowe tussen mense nie. Ja, die wêreld sonder Christus is donker, maar die Een wat gesê hê dat Hy die lig van die wêreld is, skyn in en deur elke gelowige en kerk se getuienis hier aan die Suidkus. Wees lig!

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button