Wouter se Watergat
Van die begin af het hierdie Springbokspan ingeklim en die All Blacks al hul dae gegee.
Sowel Oom Pottie as ek is nie meer jonk nie. Vroulief ook nie, En nie een van ons het vroeër in ons lewens dieselfde euforie ervaar soos met verlede Saterdag se oorwinning van die Springbokke oor die All Blacks nie. Oom Pottie was in ekstase. ‘Woutie, ek is amper 85, en was al deur baie dinge in my lewe. Ek was al teleurgesteld en teen die grond, ook bly en uit my vel uit. Maar nog nooit het ek gevoel soos vanmiddag nie’. Vroulief en ek het sy woorde beam. Dit was ‘n droom-Saterdag.
Van die begin af het hierdie Springbokspan ingeklim en die All Blacks al hul dae gegee. Die Watergat was tot barstens toe vol mense, en nie een van hulle wou te vroeg hul kuikens begin tel nie. Maar toe die telling in die tweede helfte aanskuif met die drie punte van Handré Pollard se skepskop, het die besef begin insink dat die Springbokke die manne in swart ‘n loesing soos lanklaas gaan gee. Die gejuig kon virseker kilometers ver gehoor word. Soos die vorige week, was hier heelwat swart rugby-liefhebbers, end it was weereens ‘n riem onder die hart om te sien hoe hulle hulself geniet het wanneer die Suid-Afrikaners, uiteraard veral diegene van dieselfde etniese groep, die oog gevang het. Weereens was die bewyse daar dat niks mense so motiveer en bymekaar bring soos sport nie. Voeg hierby die prestasies van ons deelnemers aan die Statebondspele, in ander sportsoorte soos gholf en krieket, en die prentjie is voltooi. Menige besoeker het die versugting uitgespreek: “Waarom moet politici en korrupsie ons so uitmekaar hou?”
Omdat daar so baie mense reeds van Saterdagoggend af hier was, was daar baie stories, sommiges nuut, sommiges oud, maar steeds baie snaaks. Ek hou van hulle vir aanstaande week, maar hier is twee wat groot plesier verskaf het. Jannie Claassens van Hibberdene: ‘n Man sit in die stoel van ‘n tradisionele barbier, terwyl ‘n groot, sterk liggaamsbouer hom met ‘n skerp ‘cutthroat’ skeer. ‘n Baie mooi, sexy vrou kom nader en begin sy skoene poets. Hy kyk by die lem naby sy keel verby en sê: ‘Dink jy nie ek en jy moet mekaar beter leer ken nie?’ ‘Ek is getroud en my man sal nie daarvan hou nie’, antwoord sy. ‘Vertel hom jy werk oortyd dan betaal ek jou die verskil,’ stel hy voor. ‘Vertel jy hom’, sê sy, ‘hy is die ou wat jou skeer’.
Karel Gey van Pittius van Manaba se bydrae: ‘n Groep standerd eens en twees gaan Greyville toe om meer oor die perde-wedrenbedryf te wete te kom. Twee onderwyseresse gaan saam, en later die oggend kom een van die seuntjies na hulle toe en kla dat hulle nie by die mans-toiletbakke bykom nie. ‘n Onderwyseres loer en sien daar is geen groot mans in die toilet nie. Sy lig die een na die ander outjie op sodat hy kan piepie. Toe sy die laaste outjie oplig sien sy hy is baie beter as die ander seuntjies bedeeld, en vra hom of hy in standard vier is. ‘Nee,’ sê hy, ‘ek ry Golden Boy in die sewende wedren, maar baie dankie vir die hulp.’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
