Dit is soms nodig om bestekopname van mens se lewe te neem. Besighede of ondernemings is bekend met hierdie praktyk. In so ’n opname kan gesien word waar die besigheid deur die jaar beter of slegter gevaar het, ’n Mens kan jou beplanning vergelyk met wat regtig op grondvlak gebeur het. Wat het byvoorbeeld negatief of positief ingewerk op die sukses of onderprestasie van die besigheid?
Om bestekopname te doen van mens se reis saam met God, of liewers Sy reis saam met jou, is meer as nodig. Dit kan dan gebeur dat mens jou seëninge begin tel. Aan die ander kant kan jy ook na jou verliese kyk en hoe dit jou lewe positief of negatief geraak het. Belangrik is dat jy die Here se hand in alles raaksien. In Psalm 18 kyk Dawid ook terug op die pad wat die Here saam met Hom geloop toe hy deur ’n baie moeilike tyd in sy lewe gegaan het. Hy sê dat die Here hom uit die hand van sy vyande en van Saul gered het.Dit was asof die Here hom uit die dieptes uitgetrek het.
Daar sal altyd goeie en slegte seisoene in die gelowige se lewe wees. Dawid se verder: `Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting’. Op God kan jy peil trek. Hy is gister daar, vandag en môre. Hy is soos ’n rots in die aarde wat jou vastrapplek gee. God was vir Dawid soos ’n veilige oninneembare vesting. Daar was kere wat hy bedreig gevoel het en ook letterlik moes vlug vir sy teenstanders. God was daar.
As jy vandag bestekopname van jou lewe sou doen, waar sien jy oral die hand van die Here aan die werk? Kan jy ook die kere soos Dawid onthou waar hy jou uitgelei het in ’n oopte toe jy vasgekeer was? Kan jy onthou toe Sy regterhand jou ondersteun het, toe hy ruimte geskep het vir jou voetstappe? Skep dan moed as jou huidige situasie jou oorweldig. Dis soms nodig om bestekopname van mens se lewe te doen. Dit gee mens perspektief.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
