Stiltetyd: Verwondering oor die skepping
Miskien moet ons meer tyd maak om op te kyk na die hemelruim en te luister na die getuienis van die skepping.
Edwin Hubble was een van die toonaangewende wetenskaplikes van die twintigste eeu. Die beroemde Hubble teleskoop is onder andere na hom vernoem. Sy ontdekking in die twintigerjare van die vorige eeu was opspraakwekkend. Dit het ingehou dat daar buiten ons eie Melkweg ’n menige ander sterrestelsels bestaan. Dit was nie, maar net wolke van stof en gas nie. Die sterrestelsels ligjare ver van ons verwyder, beweeg weg van ons af, is ook bevind.
Hoe verder hulle van ons af weg beweeg, hoe vinniger beweeg hulle. Die konsep van ’n uitdyende heelal het neerslag gevind in die literatuur en denke van wetenskaplikes. Hoe meer ’n mens oor die grootheid van die skepping nadink hoe meer raak jy in verwondering. Gelowiges, soos die digter van Psalm 19, het onder leiding van die Heilige Gee sook bewus geraak van die grootheid van die skepping.
In die Psalm skryf die digter met verwondering oor wat hy destyds met die blote oog kon waarneem. Hy sê dat die hemelruim, ja die ganse uitspansel die eer van God verkondig. Dit is ’n geloofsuitspraak. Om sy indrukke onder woorde te bring, stel hy die hemel, die dag en die nag as mense voor. Hy sê hulle praat sonder woorde met mekaar. Tog verkondig hulle onhoorbare stemme tot aan die uithoeke van die aarde ’n boodskap oor die mag en majesteit van God. Die dag en nag; die son en maan en sterre verkondig die grootsheid van die Here; sy liefde en genade; hulle getuig van ‘n Skepper.
As ons maar net wil luister. Miskien het ons te besig geword om te luister. Miskien moet ons meer tyd maak om op te kyk na die hemelruim en te luister na die getuienis van die skepping. Hoe wonderlik het die Here nie alles gemaak nie. Hoe delikaat gebalanseerd is alles nie. Hoe inmekaar verweef is die heelal nie. Wees stil en luister na die getuienis van die dag en die nag. Hoor hoe roep alles in verwondering: hoe groot en goed is God. Die mens wat sy eie geringheid voor God se grootsheid besef, besef ook sy behoefte aan genade. Mag God se genade vir jou vandag genoeg wees. Mag jou lewe Hom ophemel.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
