South Coast Fever

Is ons geluk afhanklik van ‘Happy Hours’?

Opinion piece by Johan Pretorius.

Die uwe het verlede Saterdag in ‘n buiteklub betrokke geraak by ‘n groep aangename gholfspelers wat nie geskroom het om oor hul persoonlike probleme te praat nie.

Dit was een van daardie seldsame geleenthede in ‘n kroegmilieu waartydens die onderwerpe van bespreking nie sport, veral rugby, politieke sake of skurwe grappies is nie, maar die donker kant van gewone mense se daaglikse lewensomstandighede. Die kroegman het ons om vyf-uur daarop gewys dat die sg. ‘Happy Hour’ begin het en ons biere teen halfprys kon koop. Een van die spelers het met ironie in sy stem geantwoord dis goeie nuus, want ons het toe darem iets om ‘happy’ oor te wees.

Sondag kom ek toevallig af op ‘n skryfsel op Facebook van Dana Snyman, myns insiens die beste storieverteller in ons land in Afrikaans. En die opskrif? Happy Hour. Ek het dit drie keer gelees, en herhaal dit hier vir Feverlesers wat dit nog nie teëgekom het nie:

“Maandagaand. Nog ’n vreemde dorp. Nog ’n vreemde kroeg. Die vrou agter die toonbank is so vyftig jaar oud, dalk veertig. Swaeltjie op die pols getatoeëer. Naels kortgekou. Ek is op die stoeltjie in die hoek, skuins onder die pyltjiebord, drie stoeltjies van ’n oom met ’n rooi neus vol gebarste aartjies. Dis net ons twee, ek en die oom, en die vrou agter die toonbank, en ’n handgeskrewe kennisgewing teen die muur wat sê: “Aandag almal!!! Tussen 6 en 7 alle drankies halfprys.”

Die deure swaai oop en ’n kêrel kom in. “Jis, jis, jis.” Dit lyk of hy op sy dag haker kon gespeel het. Dik nek. Harige arms. Snorrige snor. “Jis, Sarge,” groet die oom met die neus hom. “Hallo, oom.” Hy gaan staan langs die oom en sit sy motorsleutels op die toonbank neer. “Maak dit maar ’n Castletjie, Truia,” beduie hy na die vrou agter die toonbank en hys hom tot op die stoeltjie. “Sjoe.” Hy vee met sy hand oor sy voorkop. “Wat ’n k*k dag.” “Is julle besig, Sarge?” vra die oom met die neus. “Besig, my oom. Besig. Besig.” “Het hulle weer die naweek ingebreek?” “Ja, my oom. En ’n selfmoord. Ek kom nou net daarvanaf.”

“’n Selfmoord? Nee. F*k.” Die oom se stem is vol skok. “Wie?” “’n Swarte, oom. In die township.” “O, amper laat jy my skrik.” Die oom vat ’n diep sluk uit sy glas. Die vrou agter die toonbank sit ’n botteltjie Castle voor die Sarge-ou neer en hy vat dadelik daarna. “Ek’t nie geweet hulle pleeg ook selfmoord nie.” Die oom kyk na die Sarge-ou. “Hoe’t hy dit gedoen?” “Homself gehang, oom. Aan ’n boom in sy jaart.” Die Sarge-ou voel deur sy sakke en haal ’n opgevoude vel papier te voorskyn. “Ken oom ’n swart taal? Hier’s die brief wat hy gelos het.” Die oom vat die brief by hom, staar ’n ruk daarna, en gee dit terug. “O, nee, hel, ek verstaan nie ’n woord nie.” Hy beduie na die deur agter die toonbank. “Hoekom vra jy nie vir Alpheus in die kombuis nie? Truiatjie, roep bietjie daar vir Alpheus.”

Die kroegvrou stap by die deur uit, die kombuis in, en kom ’n paar oomblikke later terug met by haar ’n ouerige man in ’n wit koksbaadjie, met ’n ZCC-wapentjie op die bors. “Wat’s jy?” vra die Sarge-ou vir hom “Ek’s Alpheus, Ntate.” “Nee, man. Ek bedoel: Is jy ’n Sotho of ’n Xhosa?” “Ek’s ’n Sotho, Ntate.” “Kan jy hom die lees?”“Ja, Ntate. Ekke kan lees.” “Nou wat staan hier?” Die Sarge-ou hou die brief na hom toe uit. Die ou man hou die brief naby sy oë. “Hierie’s nie Sotho nie, Ntate.” Hy laat sak die brief. “Dis Zoeloe.” “Kan jy die Zoeloe lees?” “Ekke kan, Ntate. Ekke kan Zoeloe lees.” “Nou lees vir ons wat hy daar staan.”

Die ou man lig weer die brief. “Sawubona ningahleka,” begin hy lees. “Ndihambile ndigqibile . . .” “Wat maak jy nou?” val die Sarge-ou hom in die rede. “Ek lees hierdie woorde, Ntate.” Die brief bewe in die ou man se hande. “Ons wil in Afrikaans hoor wat daar staan.” “Dis swaar om te sê, Ntate.” Die ou man beduie na die brief. “Wat’s so swaar? Jy sê dan jy ken Zoeloe.” “Hier staan, Ntate . . .” Die ou man lig weer die brief. “Hier staan: ‘Aan almal wat ek ken. Ekke groet julle ekke is nou klaar. Julle kan nou lag ekke is weg. Salakahle.” “Is dit al?” vra die Sarge-ou.

Die ou man sit die briefie op die toonbank neer, draai om en stap terug na die kombuis sonder om die Sarge-ou te antwoord. ’n Paar oomblikke later klap ’n deur iewers hard toe. Die Sarge-ou vou die brief op, sit dit in sy sak, en vat na sy bier. Buite in die straat ry ’n motor verby. “Hoekom’s dit nou so stil?” vra die oom met die neus. “Sit bietjie daar vir ons iets op, Truiatjie.” Die vrou agter die toonbank druk die CD-speler op die rak se knoppies.

“Oom-hulle moet onthou,” sê sy voor Kurt Darren begin sing. “Nog net vyf minute, dan’s happy hour verby.”

Wens ek kon so skryf, Dana. Ek wens. Ek wens.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button