Heropbou en herstel. Dis waaraan mens dink as jy die woorde van Psalm 147 lees. Die lied vertel vir ons dat die Here Jerusalem herbou, dat Hy die verstrooides van Jerusalem bymekaarmaak. Dit is Hy wat die met gebroke harte genees, wat hulle wonde verbind. Dit is Hy wat die getal van die sterre bepaal en aan hulle name gee. Psalm 147 is waarskynlik na die terugkeer uit die ballingskap gedig. Dit was nie maklike tye nie.
Na jare in ballingskap, het die mense terug gekeer na ‘n land waar alles verwoes was. Geen wonder dat net ‘n groepie terug gekeer het nie. Die tog na Palestina was nie maklik nie. Dis ‘n moeilike pad. By die land aangekom, moes hulle van voor af begin het. Die stede was verwoes en verlate. Die landerye onbewerk. Die boorde het nie meer bestaan nie. Van voor af moes hulle begin om alles weer op te bou. Boonop het hulle ernstige teenstand ontvang van ander mense en groepe wat in die tussentyd in die land ingetrek het of die land wou hê. Uit die Psalm kan ons aflei dat hulle nou al darem die tempel en die stad met sy mure herbou het.
Teen hierdie agtergrond moet ons die Psalm lees en waardeer. Dit is ‘n lofpsalm, gesing teen die agtergrond van dinge wat verkeerd geloop het. God herstel. Hy bring mense wat uitmekaargespat het bymekaar. Hy skenk die krag om weer te bou na jare van verwoesting. Daar is mense wat baie trauma beleef het en deur diep waters gegaan het. Die Psalmis erken dat dit die Here is wat fisies en emosioneel gebroke mense weer herstel.
Die het Hy destyds gedoen en doen dit vandag ook. Die mag van die Here is nie net beperk tot die mens nie, maar die hele skepping, soos die verwysing na die sterre wat Hy by die naam ken. Die Psalm eindig op ‘n hoogtepunt: die Here maak sy woorde aan Jakob, aan sy volk bekend. Hy praat met hulle. Hy maak sy wil aan hulle bekend. Die gee van die Woord is die hoogtepunt van God’s genadige handelinge. Daarom is Hy lofwaardig. Op Sy Woord kan ons vertrou. Hy bly getrou.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
