Kinders se trauma wanneer ouers gedurig rusie maak
Opinion piece by Johan Pretorius.
Die Pretoriusse is in die proses om na ’n aftree-oord toe te trek met min tyd vir iets anders, dus was ek vandeesweek baie dankbaar dat Afrikaans.com ’n bydrae op hul webwerf geplaas het wat ek met lesers van die Fever kan deel.
Dit handel oor die ernstige gevolge vir kinders wanneer hul ouers aanhoudend in huishoudelike gevegte betrokke is. Weens gebrek aan ruimte plaas ek ’n effens verkorte weergawe:
Geen verhouding is net altyd maanskyn en rose nie. Mense verskil en dit is ons elkeen se reg om ons gevoelens te verwoord, maar… hoe ons konflik hanteer, ons gevoelens wys of geskille oplos, is wat saakmaak.
Afrikaans.com wil graag in hierdie artikel spesifiek kyk na die impak wat ouers se konflik op hulle kinders het.
Ons praat nie hier van die mindere geskille tussen ouers waaraan ons kinders soms blootgestel word nie – op sigself is dit ‘normale’ optrede en ’n mens wil glo dat dit hulle nie werklik emosioneel kan skaad nie.
Dit is egter die ernstige konflik tussen ouers (met of sonder geweld) wat ons kinders beslis nadelig kan beïnvloed. Daardie rusies wat skynbaar nooit ophou nie … Om van ons vrae hieroor te beantwoord, het ons gesels met dr Rhona van Niekerk, ’n traumaterapeut en forensiese kriminoloog van Modimolle (Nylstroom), Limpopo.
Dr van Niekerk sê dat haar grootste bekommernis die langtermyngevolge van hierdie blootstelling aan konflik is, en veral die nie-sigbare impak.
Daardie gevalle waar emosionele manipulasie en verbale aftakeling, met of sonder geweld, deel uitmaak van die kind se daaglikse bestaan. Hierdie wanfunksionele omgewing waarin die kind grootword, word deel van die kind se optrede as volwassene – dit word aangeleer en so ontstaan daar hierdie bose kringloop van een generasie tot die volgende.
Kinders wat gedurig moet luister en sien hoe hul ouers baklei, word op verskillende maniere geraak.
Verhoogde stres: Die kind raak angstig, onttrek, of ontwikkel vrese. So ’n kind sal byvoorbeeld begin bed natmaak, sy naels tot in die lewe afkou, sy hare uittrek, huilerig wees en sukkel om te slaap of nagmerries kry.
Emosionele impak: Dit kan die kind se selfbeeld en emosionele welstand beï Die kind voel nie goed genoeg nie, voel ontmagtig omdat hy nie die situasie kan beheer nie en hy ontvlug dan van die realiteit deur sosiale kontak met maats te vermy. Dikwels is die kind depressief en afgestomp. So ’n kind sluit homself af en ‘voel oënskynlik niks’ – traak-my-nie-agtigheid. Depressie word ook geken aan talle ander simptome, soos slapeloosheid, swak eetlus, of ooreet, moegheid en in die uiterste gevalle selfdoodgedagtes.
Soeke na erkenning: Weens die ouers se konflik raak die kind stil en onttrek hy na sy eie wêreld. Die kind weet nie waar hy inpas nie, maar het steeds erkenning en aandag nodig. Daarom soek hy dit dikwels op die verkeerde plekke.
Selfmutasie, selfskending: Dit is dikwels moeilik om te sien, omdat die kind wat homself seermaak dit onder hulle klere kan wegsteek. Selfmutilasie neem verskillende vorme aan, maar so ’n kind sal homself byvoorbeeld sny of brand – net sodat hy iets kan voel – al is dit dan pyn.
Internalisering: Dit verwys na die onderdrukking van emosies of gedagtes. Die kind hou dit vir homself en kan of wil nie daaroor praat nie. Juis omdat hulle nie geleer het om hulself emosioneel te reguleer nie. Dr Van Niekerk sê dat daar verskeie redes hiervoor is, maar een daarvan is dat die kind nie sy ouers wil benadeel nie, want hy glo tog dat alles sal regkom en op die manier troos hy homself.
Akademiese prestasie. Die verhoogde spanning tuis kan die kind se konsentrasie en leer beïnvloed en ’n direkte impak op prestasie hê.
Kinders ervaar konflik anders as volwassenes. Dalk speel die een ouer die ander een af teen die kinders, of wanneer daar geweld by betrokke is, sal die kind geneig wees om die slagoffer te ondersteun omdat hy voel sy of hy kan homself nie beskerm nie
Kommunikasie is belangrik: Kinders verstaan nie altyd hoekom sekere goed gebeur nie. Hulle formuleer dan hulle eie redes vir die situasie waaraan hulle blootgestel word. Daarom is dit belangrik om met die kind te gesels en te verduidelik hoekom ouers rusie maak of dalk skei.
Kinders moet geleer word hoe om hulle emosies en die van ander raak te sien en te hanteer. Hulle moet weet dat dit oukei is om van ander te verskil
Slotgedagte: ’n Gelukkige en goedaangepaste kind sal eendag ’n tevrede volwassene wees. Ouers doen hulle kinders ‘n groot onreg aan as hulle hul ouerlike plig versuim en toelaat dat hulle kind binne ’n disfunksionele gesin grootword. Moet ook nie dink dat dit net in jou minder gegoede omgewings plaasvind nie. Ook in jou gegoede huise en buurte word kinders in disfunksionele gesinne groot.
Daarom is dit ons elkeen se plig om toe te sien dat ons kinders gekoester word en toegelaat word om net kind te wees. Dalk te veel gevra in ons huidige samelewing, maar ons moet êrens die streep trek en ons kinders teen alle koste beskerm.
Vir die volledige artikel, gaan na Afrikaans.com.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
