South Coast Fever

Abrie Spies: ‘n Seder val aan die Suidkus

Daar is by my geen twyfel dat daar feitlik niemand op die Suidkus is wat nog nie van Abrie Spies gehoor of hom geken het nie.

Dis met groot hartseer dat ek kennis geneem het van die dood van Abrie Spies, een van die legendes van die Suidkus, in die rype ouderom van 97 jaar. Daar is by my geen twyfel dat daar feitlik niemand op die Suidkus is wat nog nie van Abrie Spies gehoor of hom geken het nie. Hy het jare lank hier gebly, sy aandag aan die gemeenskap gewy, en baie diep spore getrap.

Sy seun Danny vertel Abrie se gesondheid het die afgelope tyd agteruitgegaan, en nadat hy verlede week sleg geval het, is hy Donderdagaand in sy slaap oorlede. Abrie en sy vrou Sarah, wat negentig jaar oud is, was 72 jaar getroud, en hulle het die afgelope tyd in ’n ouetehuis op Margate gebly. As joernalis het ek baie jare lank met hom te doen gekry, en wat my bybly is sy standaard-antwoord op die vraag hoe dit met hom gaan. ‘Nee man, ek vat net hier en daar grond’. Wat nie onwaar was nie, want hy het eers op 91 afgetree. Hul eiendoms-en verhurings-onderneming, wat hulle amper 50 jaar gelede op St. Michael’s gestig het, en waarskynlik die meerderheid van die vakansieverblyf-eenhede in Shelly Beach, St. Michael’s, Uvongo, en Margate bestuur het, het met ‘n ander eiendomsmaatskappy saamgesmelt. Om egter nie kontak te verloor met die duisende mense met wie hulle oor die jare as gevolg van hul besigheid kennis gemaak het nie, het hy en Sarah ’n gesellige ‘kuierkantoor’ reg langs hul vorige onderneming spesiaal ingerig waar hulle nog bereikbaar was, ook vir hul talle plaaslike kennisse en vriende.

Abrie en Sarah het saam diep spore in die geskiedenis en gebeure van die Suidkus getrap, veral onder die Afrikaanssprekendes. Abrie is op Newcastle gebore, het vroeër eers op Hibberdene geboer, en was elders in die destydse Natal intens by politieke en kultuursake betrokke. Sy bydrae oor die afgelope 60 jaar was geweldig groot, in kultuur-, politieke, kerk- en gemeensapsake. Abrie het my destyds vertel dat die Suidkus, destyds toe hy hier aangekom het, baie dun bevolk was, en daar was baie min Afrikaanssprekendes. Die NG Kerk het byvoorbeeld mense bedien van Scottburgh af tot Port Edward, en sover as Kokstad in die binneland. Dis algemeen bekend dat Abrie ’n beduidende rol gespeel het in die vestiging van nuwe kerkgemeentes, ook die Margate-gemeente, en veral ’n groot dryfkrag was agter die vestiging van die Hoërskool Suid-Natal. Hy was ook diep betrokke by plaaslike politieke en kultuurbedrywighede.

Daarbenewens was hy in sy jonger dae ’n uiters bedrewe musikant wat mense soos Nico Carstens baie goed geken het. Trouens, hy het nog baie van hierdie bekende musikant se bladmusiek wat Carstens aan hom geskenk het, in sy besit gehad. Tydens ’n besoek aan sy kantoor na Nico se dood het hy my die bladmusiek gewys, en daaraan herinner dat hy self ’n kranige trekklavierspeler was, en dat hy lank met sy eie orkes, die Werda-boere-orkes, op plekke soos Ladysmith en Newcastle opgetree het. Abrie het Nico in die laat veertigerjare ontmoet toe Carstens as lid van Hendrik Susan se orkes oor die lengte en breedte van Suid-Afrika konserte gehou het.

Toe ek Abrie met sy 90e verjaardag gaan besoek het, was dit moeilik om te glo dat hierdie man, kort, skraal van postuur en steeds met ‘n vol kwota hare op sy kop, 90 jaar oud was. Ek het hom gevra hoe dit voel. ‘Ag wat, ek gaan net aan,’ het hy verklaar. ‘Net baie dankbaar dat ek ’n groot rol in die gemeenskap kon speel, dat ek ’n wonderlike gesin en vriendekring het, en dat ek geen ernstige gesondheidsprobleme het nie.’ Abrie het egter opgemerk hy het destyds ‘n minder-ernstige dikdermverwante kwaal gehad. Hy was in sy jonger dae ook baie lief vir gholf. ‘Ek wil baie dankie sê aan die Groot Vader vir die vermoë, gesondheid en geleenthede wat my gegun is om te doen wat ek gedoen het. Ek het veral omgegee vir my eie mense.”

Sarah se kommentaar was basies dieselfde as Abrie s’n. “Maar ek is veral dankbaar dat ons 65 jaar lank gelukkig getroud is, en nooit een aand kwaad vir mekaar gaan slaap het nie.” Sarah het toe egter met ’n tikkie hartseer en weemoed verklaar hulle het vier kinders, drie seuns en ‘n dogter, maar van die klein- en agterkleinkinders woon in die buiteland, en hulle verlang baie. Hul raad vir ’n lang lewe? “Gewone boerekos, eet net waarvoor jy lus het, maar met matigheid, en volg ’n gesonde lewenswyse.” Drink hy darem ’n dop? “O ja”, het Abrie geantwoord Abrie, ‘so ’n klein bietjie whisky’ en het met sy vingers teen ’n plastiek-koppie beduie, ‘saam met limonade’. “Hy eet egter vreeslik baie sjokolade,” het Sarah Sarah begevoeg.. “Veral diè met rosyntjies in… goed vir die spysvertering,” het Abrie verduidelik.

Wanneer bekende mense soos Koningin Elizabeth van Brittanje se lang lewens tot ’n einde kom, word gesê dis die einde van ‘n era. Aan die Suidkus van KZN het die Abrie Spies-era geëindig. Wie sal ooit vir Abrie en sy rooi Nissanbakkie vergeet? Die SC Fever wens dat hy in vrede sal rus, met ons innige simpatie aan sy gesin en familielede. Hy was iemand baie, baie besonders.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button