Die Freedom Charter – presies 70 jaar oud
Die Charter is amptelik op Sondag 26 Junie 1955 aanvaar deur ’n vergadering van 3000 mense in Kliptown, Soweto.
’
25 Junie 1955, 70 jaar gelede, was ’n mylpaaldatum in die geskiedenis van Suid-Afrika. Die dag toe die Freedom Charter, oftewel Vryheidsmanifes, aanvaar is deur die destydse Kongres-alliansie, wat bestaan het uit die African National Congress, en sy vennote die South African Indian Congress, die South African Congress of Democrats en die Coloured People’s Congress. Dit het onder die Nasionale Partyregering van die dag groot oopslae gemaak, daar was hewige teenkanting daarteen onder die meerderheid van die blanke bevolking in die land. As elfjarige is ek deur my ouers en onderwysers ingelig dis nog ’n poging van die Kommuniste en vyande van ’n stabiele regering om die land oor te neem. Later in my lewe het ek besef hoewel die inhoud vervat in die Charter destyds nie toegepas sou kon word sonder ’n totale oorgawe van die destydse regering nie, is die basiese beginsels daarin vervat vandag heel aanvaarbaar.
Die Charter is amptelik op Sondag 26 Junie 1955 aanvaar deur ’n vergadering van 3000 mense in Kliptown, Soweto. Dit was nadat die ANC 50 000 vrywilligers na woonbuurte en die platteland gestuur het om ‘vryheidseise van die mense van Suid-Afrika’ te versamel. Die manifes is opgestel deur die destydse ANC-leiers ZK Mathews, Rusty Bernstein, Ethel Drus, Ruth First en Alan Lipman, wie se vrou Beata die oorspronklike manifes met die hand geskryf het. Die vergaxdering is op die tweede dag deur die polisie beëindig, maar nie voordat die manifes as geheel gelees en aanvaar is nie. Nelson Mandela was op die vergadering, maar aangesien sy beweging en interaksie met mense beperk was deur verbanningsbevele, het hy homself as ’n melkman vermom en ontsnap.
Internetbronne wys daarop die dokument het ’n belangrike breuk met vorige ‘struggle-tradisies’ verteenwoordig. Dit was nie meer ’n burgerregte-beweging nie, maar ’n beroep op ’n algemene herstukturering van die Suid-Afrikaanse gemeenskap van destyds. ’n Kenmerk van die dokument was dat daarin gevra is vir ’n nie-rassige Suid-Afrika, wat daartoe gelei het dat ANC-lede wat Afrikaniste was, die party verlaat en die PAC gestig het. Die kongres is egter deur die regering as verraad verklaar, die ANC is verban en 156 aktiviste in hegtenis geneem, insluitend Mandela, en hulle was die beskuldigdes in die Hoogverraadverhoor van 1956. Almal is vrygespreek. Die Charter is egter steeds in die ondergrondse strukture van die ANC gesirkuleer, en was die basis van ’n latere groep aktiviste se veldtog teen die regering. Toe die ANC in 1994 aan die bewind kom, is talle van die eise in die manifes in die Grondwet van Suid-Afrika vervat. Die oorspronklike dokument is in die museum van die Liliesleaf Farm, waar aktiviste in die sestigerjare in hegtenis geneem is.
Die volle inhoud van die Vryheidsmanifes kan uiteraard nie hier genoem word nie weens ’n gebrek aan ruimte, maar ek noem van die belangrikste stellings. Die openingsparagraaf gee ’n goeie opsomming van die inhoud van die dokument: ‘Ons, die mense van Suid-Afrika, verklaar aan ons land en die wêreld dat Suid-Afrika aan almal behoort wat in hom woon, swart en wit, en dat geen regering aanspraak kan maak op gesag nie tensy dit gegrond is op die wil van al die mense van die land. Ons mense is beroof van hul geboortereg tot grond, vryheid en vrede deur ’n vorm van regering gegrond op onreg en ongelykheid, en ons land sal nooit vooruitstrewend of vry wees totdat al ons mense in broederskap leef nie, met gelyke regte en geleenthede. Slegs ’n demokratiese staat, gegrond op die wil van al ons mense, kan hulle geboortereg verseker sonder dat op grond van kleur, geslag of geloof teen hulle gediskrimineer word. Daarom aanvaar ons, die mense van Suid-Afrika, swart en wit, saam as landgenote en broeders, hierdie Vryheidsmanifes. Ons verbind onsself ook daartoe om saam te strewe, met krag en moed, totdat die demokratiese veranderings waarop ons aanspraak maak, gerealiseer het’.
Die manifes lui onder meer dat elke man en vrou die reg sal hê om te stem en om ‘n kandidaat te wees vir enige liggaam wat wette maak, alle mense moet kan deelneem aan die administrasie van die land, die regte van almal sal dieselfde wees ongeag ras, kleur of geslag, en alle instellings van minderheidsregering, rade en owerhede sal vervang word deur demokratiese instellings van selfregering.
Ander hoofpunte is alle nasionale groepe sal dieselfde regte hê in staatsinstellings, die howe en in skole, die nasionale rykdom en die erfenis van alle Suid-Afrikaners sal aan die mense teruggegee word, beperkings op grondeienaarskap gegrond op ras sal beëindig word, almal sal gelyk wees voor die reg en geregtig op ’n regverdige verhoor, almal sal dieselfde menseregte geniet, kan werk, vakbonde stig en ooreenkomste met hul werkgewers aangaan, die deure van kultuur en opvoeding sal vir almal geopen word, daar sal huise, veiligheid en gemak wees, Suid-Afrika sal ‘n soewereine, onafhanklike land wees wat die regte en soewereiniteit van ander lande respekteer en internasionale dispute met onderhandeling probeer oplos en nie met oorlog nie.
Die manifes is interessante en insiggewende leesstof, en die ironie is die ANC se politieke opponente kan dalk met reg aanvoer dat hulle in die huidige politieke omstandighede belangrike beginsels van hul eie manifes van 1955 oortree. Is BEE bv. daarmee versoenbaar? Regstellende aksie na 30 jaar?
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
