Dana Snyman – ’n ikoniese Afrikaanse storieveteller
Hy was ook al betrokke by TV-reekse, waarvoor hy ook toekennings ontvang het.
Die uwe het vandeesweek nie geweet waaroor om te skryf nie, totdat ek afgekom het op ’n skryfsel van Dana Snyman. Soos Fever-lesers waarkynlik reeds weet hy is my en derduisende ander Suid-Afrikaners se guntelingskrywer. Ware volksbesit. Dana het ’n lang joernalistieke en skryfloopbaan by verskeie top-publikasies agter die rug, verskeie topverkoperboeke op sy kerfstok, waarvan etlike in bekroonde verhoogstukke en selfs rolprente verwerk is.
Hy was ook al betrokke by TV-reekse, waarvoor hy ook toekennings ontvang het. Sy boek ‘Seun’, ’n outobiografie, is ’n topverkoper en ook reeds as ’n verhoogstuk verwerk. Ek het die voorreg gehad om onlangs weer met hom te gesels by die Natsteen en Boekefees op Kaapsche Hoop, waar hy reeds meer as vyf jaar woon. Wat ’n wonderlike, interessante, nederige mens, en unieke woordkunstenaar, soos blyk uit hierdie vertelling met die opskrif ‘OM TE DRA’.
Dana se pa was ’n dominee:
“Seun se ma praat met tant Sannie oor die telefoon. Dis vreeslik, ta’ Sannie, sê sy ma. Die arme-arme Blom. ’n Rukkie later sit sy ma die foon neer. Dit was ta’ Sannie, sê sy ma vir sy pa. Hennietjie van Blom is dood. Sy ma kom staan in sy kamerdeur, met ’n sakdoek in haar hand. Hennietjie van tannie Blom-hulle is nou by Liewe Jesus, Seun, sê sy. Hennietjie is by Liewe Jesus en tannie Blom moet ’n inspuiting vir skok by die dokter kry en die familie kom van ver af en kom sit op tannie Blom en oom Nico se stoep en wag vir die begrafnis Vrydagmiddag. Sy ma dra sop aan en sy pa bid vir hulle. Hy was maar drie maandjies oud, sê een van die tannie met rooigehuilde oë. So jonk. Jy moet kyk dat jou skoene skoon is, sê sy ma. Jy gaan een van die draers wees. Tannie Blom lê in die kamer agter toegetrekte gordyne en niemand praat hard nie. Almal fluister asof hulle bang is die dood kom weer en vat ook een van hulle weg.
Een van die ooms sê jy sien ’n helder lig as jy doodgaan en dan gaan jy hemel toe of hel toe waar jy vir ewig brand in ’n vuur as jy sonde gedoen het en nie vir jou pa en ma geluister het nie en perskes in oom Andries se tuin gepluk het sonder om eers te vra. Die oom van Avbob bring Hennietjie se kis in die swart lykswa kerk toe. Jy kan Liewe Jesus nie sien nie, maar liewe Jesus kan jou sien, sê sy pa. Daarom kan Hennietjie hom seker ook sien, want hy is by Liewe Jesus.
Hennietjie is nou een vaan Liewe Jesus se engeltjies, met vlerke, nes in die Kinderbybel. Hy wil nie doodgaan en een van Liewe Jesus se engeltjies word nie, netnou verlang hy na sy ma en sy pa en dan kan hulle jou nie sien nie. Hy vlieg tot by hulle, en roep: Ma, help! Help! Ek wil nie dood wees nie! Maar jou ma kan jou nie sien of hoor nie, sy sit daar en huil omdat jy weg is. Die familie sit in die kerk se voorste bank en sy pa preek en sy ma gee vir hom sommer twee pepperminte om te suig en hy wonder of Hennietjie nou kan praat en sing in die hemel, al is hy nog te klein om te kan praat en sing.
Hulle ry agter die lykswa aan na die begraafplaas se sipresbome toe met die kar se ligte aangeskakel. Die vroue het swart rokke aan. Sy pa dra ’n donkerbril en ’n manel met ’n dubbele ry knope. Hennietjie se een nefie en twee ander seuns dra Hennietjie se kis saam met hom. Hy probeer hartseer lyk, al is hy nie hartseer nie. Hy is bang. Hy wens hy kan huil soos die keer toe Vlekkie doodgery is dat die grootmense kan dink hy is hartseer oor Hennietjie se dood. Hy was nie bang toe Vlekkie dood is nie. Hy wil die wit kissie begin skud en voel of jy vir Hennietjie binne-in kan voel al is Hennetjie nou ’n engeltjie.
Hennietjie is gelukkig. Hennie is by liewe Jesus. Hennietjie kon nog nie sonde doen en sy pa en ma kwaad maak en oom Andries se perskes steel nie. Saans wanneer hy bad, gly hy sy hand vinnig deur die kokende stroom wat by die kraan uitstroom en wonder hoe dit moet wees om vir ewig en ewig in ’n vuur te brand. Hy wil nie hel toe gaan nie.
Oom Nico staan in die graf en hulle laat sak die wit kissie tot in oom Nico se arms. Tannie Blom wil by Hennetjie in die graf spring, van die ooms moet haar vashou. Hy weet nie hoe gaan hy ooit weer nie bang vir die dood sal wees nie. Sy pa strooi sand oor die wit kissie en sê: Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer. Hy wil nie stof wees nie. Hoekom is jy so stil, Seun? Pla iets jou? vra sy pa op pad terug huis toe in die kar. Niks, sê hy vir sy pa, niks pla hom nie, maar alles voel anders, die geboue en die huise en die bome, en die son wat verblindend van bo af skyn.”
Jy mag maar skryf, Dana. Jy mag maar.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page