BlogsOpinion

Pitkos vir my Siel deur Pieta

Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie!

Het U al aan die volle betekenis van hierdie woorde gedink? Hy is ons Herder: is dit nie so dat die herder vir sy skape sorg nie? Bekommer jy jou oor more; wat jy sal eet of drink? Die herder vat die skape uit veld toe na waar hul kos kan kry, dus sal hul nie honger wees nie. “…ek kom niks kort nie”; sorg Hy dan nie vir ons ook in al ons behoeftes nie? Die Here weet wat ons nodig het; Hy weet wat ons behoeftes is – Hy ken elkeen van ons se behoeftes! Daarom hoef ons ons nie te bekommer nie.

Is bekommernis nie die teenoorgestelde van geloof nie? Wat sê dit vir ons? Ons moet geloof in God hê; ons moet Hom vertrou om ons Herder te wees. ‘n Herder sorg tog vir sy skape en die skape ken Sy stem; hulle hardloop nie vir hom weg nie, maar hulle vertrou hom en volg hom. So moet ons ook dan doen. Neem Hom aan as jou Herder, vertrou Hom en Hy sal jou lei na groen velde en tot by die water. Jy sal niks kortkom nie. Is dit nie wonderlik dat ons kan weet ons hoef nie bekommerd te wees oor die dag van more nie en, dat ons die versekering kan hê dat Hy sal voorsien? Dit sê egter nie dat ons maar net ongeërg deur die lewe kan gaan en dat ons maar agteroor kan sit en daar sal gesorg word nie.

Nee, die Bybel leer ons ook dat “as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” Die Here verwag van ons dat ons ons deel sal doen. Gebruik jou krag en energie om jou werk te doen; om vir jou gesin te sorg; Hy het immers vir jou daardie vermoë gegee om jou werk te kan doen, om uit te gaan en ‘n rol iewers in die gemeenskap te vervul. Ons weet almal dat die lewe nie sonder probleme en uitdagings is nie. Byna elke dag is daar maar een of ander gebeurlikhede wat groot druk op ons plaas; wat eise aan ons stel wat vir ons partykeer byna onmoontlik voel om na te kom.

Ons het reeds gehoor dat God ons behoeftes ken; maar netso ken God ook ons vermoëns. Met elke berg wat op ons pad kom sal Hy vir ons die krag en die vermoë gee om oor daardie berg te kom. Neem jou onvermoë na Hom toe; bely aan Hom jou afhanklikheid en Hy sal jou die uitkoms gee! Ons is so geneig om ons “pakkie” voor Sy voete neer te lê maar voor ons omdraai en wegloop neem ons dit weer op en neem dit saam met ons verder. Nee, sit jou pakkie sorge voor Sy voete neer, draai om en los jou pakke vir Hom. Sien en ervaar wat God vir jou kan doen!

Vertrou op Hom, bely jou afhanklikheid in Hom en Hy sal jou uithelp, want Hy is jou Herder!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Sun in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button