
Om onafhanklik te wees, is Vryheid. Om in jou motor te kan klim en êrens heen te ry, is iets waarna menige bejaardes met heimweë terugdink.
Noudat skoonma Barney Roos op 91 jaar hemel toe verhuis het, dink ek so baie aan haar en die geel Volksie wat vir dekades deel van Nigelweg se verkeer was.
‘n Vlugvoetige Volla was dit, en ouma Barney kon enige verkeerskonstabel tot nuwe insigte bring.
Hoe kan sy sit en rondkyk vir spoedborde, sou sy vra, dis immers baie veiliger om net voor jou in die besige pad te kyk. Haar vertoë op boetes was so kreatief dat sy meestal baie lig daarvan afgekom het.
Eenmaal het ‘n verkeerskonstabel haar praatjies kortgeknip en gevra hoe oud sy is. Toe hy hoor sy’s lankal by 80 verby, het hy haar aangesê om reguit huistoe te ry en net daar te bly!
Toe ma Barney toenterjare vir ons in Florida moes kom kuier, het sy die snelweë met geloof aangepak. Toe sy eenkeer besef sy het die verkeerde afrit op die M2 geneem, het sy teen die kant-versperring stilgehou, lank en ernstig gebid en toe teen die Vrydagmiddag-verkeer teen die afrit begin tru.
Wanneer die ander motoriste op hul toeters lê en vingertekens gooi, het sy weer bietjie gebid, totdat die Volla later weer in die hoofverkeer kon insluip – kompleet soos ‘n brak met platgetrekte ore.
‘n Ander keer het sy haar karretjie letterlik aan die brand gery. Hulle is drie spoedwalle oor sonder ‘n voet op die rem, en toe ons later al lekker sit en teedrink by ons huis, het die kinders kom sê ouma se kar is vol rook.
Die battery onder die agtersitplek het van die gebokspring losgekom uit sy klampe en batterysuur gelek en later die stoffering van die sitplek laat brand. Maar wat, niks wat die kinders nie met ‘n tuinslang kon beredder nie …
Toe kom die ellende toe die lisensie verstryk en sy nie meer die oogtoets kon slaag nie. Die Volla is na ‘n bitterswaar afskeid verkoop, en daarmee saam haar kosbare afhanklikheid. Voordat hy na sy nuwe eienaar toe is, het sy ‘n brief aan haar karretjie geskryf en dit in die brilkassie gesit:
Liewe Vollatjie, vandag het ek jou vir die laaste keer mooi skoongemaak. Baie dankie dat jy my vir 30 jaar veilig gekarwei het. Mag dit vorentoe met jou goedgaan. Met ‘n seer hart, van Barney.
Nou is ouma Barney ook weg, en met seer harte sê ons dankie vir al die baie gebede en sorg deur die jare. Maar ons weet dat dit vorentoe met haar goed sal gaan.
Karlien Roos



