Die volvoer is maar so bietjie bederf deur sy mense ouers, en sluit gemaalde mielies en ander lekkernye in, terwyl die groen gras plek plek hul verskyning maak.
Maar sedert Junior wees nagelaat is, met die afsterwe van sy mamma, het daar heelwat gebeur by die Robertson boerdery.
Junior se tante het iets vreesliks oorgekom.
Sy was dragtig en het haar volle vyf maande geloop.
Ons was so opgewonde na die koms van nog ’n tweeling, want sien, Ramkat, die ram van die kleinhoewe, se afstammelinge is almal tweelinge.
Met groot afwagting, is ons die oggend vroeg op om die tweeling te verwelkom, maar daar was nog niks nie.
Ai tog, dalk het ons die datum verkeerd uitgewerk.
En so gaan die dag verby en kan ons nie wag om by die huis te kom om die nuwelinge te sien nie, maar ons was weereens teleurgesteld.
So volg die kat en muis speletjie vir drie dae.
Tot die groot oomblik aangebreek het, of so het ons gedink.
Nie een van ons het die ergste verwag nie, maar Junior se tante kry toe baie swaar.
Sien, terwyl sy in kraam gaan, val haar ingewande uit in plaas van die tweeling.
Die veearts word uitgeroep, die ingewande word terug gedruk en ons word moed ingepraat.
Maar weereens is dit ingewande wat uitkom en nie die lammers nie.
Na ure se gesukkel noem die veearts dat die ooi bitter swaarkry en die lammers is heel waarskynlik klaar dood as gevolg van stres.
Ewe kordaat voeg ek by “seker ook weens ’n gebrek aan suurstof”, en die veearts gee my skouer ’n bemoedigende druk.
Teen dié tyd loop die trane, kan ek doodeenvoudig nie meer haar pyn en leiding verwerk nie en besluit om my uit die voete te maak.
Dit het soos ’n ewigheid gevoel voor my nuuskierigheid weer die oorhand gekry het, en ek gaan hoor wat aangaan.
Ongelukkig het Junior se tante, en haar tweeling dit nie gemaak nie.
Volgens my man was dit moeilik om te aanskou hoe die dier gely het, maar nature took its course.
Nie een van ons het eers gekyk wat die geslag van die lammers was nie, en by nabetragting is dit ook ’n goeie ding.
Wat ons wel seker van is, is dat ons alles in ons vermoë gedoen het om Junior se tante en haar ongebore tweeling se lewens te spaar, al was alles verniet.
Soms loop die lewe snaakse draaie met ’n mens en wonder ons hoekom en waarom hartseer gebeure ons paaie kruis.
Maar as ons na Junior kyk dan besef ons hoeveel vreugde hy in ons lewens bring.