Local newsNationalNews

‘In my hart sal ek altyd ‘n polisiebeampte bly,’ sê dorp se 1ste polisievrou

"Sommige mans was baie skepties en het gedink ons wou net die manne se plekke inneem. Ander het uit hul pad gegaan om my welkom te laat voel en te help," onthou oud-polisiebeampte Anna (Moolman) Smith.

 

Deur Retha Fitchat

VANDERBIJLPARK. – In Vaalweekblad van 14 Julie 1972 is ‘n foto van ‘n aantreklike donkerkopmeisie met ‘n reguit, stip kyk: Anna Moolman. Anna het daardie maand as die heel eerste vroulike polisiebeampte van Vanderbijlpark begin diens doen. Vaalweekblad se jonger personeel het deur die jare dikwels gewonder hoe dié nooi se loopbaan in die Polisie die volgende 40 jaar verloop het.
Ongelukkig kon ons die afgelope 10 jaar nooit daarin slaag om haar op te spoor nie, maar nou het ons! Nadat Vaalweekblad se 55-jaar herdenkingsboek met ‘n foto van die jong Anna daarin onlangs verskyn het, het haar dogter, Monya le Hanie, dit raakgesien en Vaalweekblad uiteindelik in aanraking met Anna (nou 66) gebring.
Sy het reeds afgetree maar woon nog in Vanderbijlpark en sê sy het ‘n leeftyd se ervarings en stories uit haar polisiedae om aan terug te dink.
Anna is in Carolina gebore en het haar skoolloopbaan in Chrissiesmeer begin voordat haar ouers na Sasolburg verhuis het en sy by die Laerskool A.J. Jacobs ingeskryf is. In 1963 het haar pa by die sekuriteitsafdeling van die destydse Yskor begin werk en Anna het haar skoolloopbaan by Laerskool Hendrik van der Bijl voortgesit. In 1971 het sy haar matriek aan die Hoërskool Vanderbijlpark geslaag.
Polisiebloed bruis flink deur die Moolmans se are. Haar pa, Chris Moolman, was ‘n polisieman en haar broer Theunis het in 1971 ook sy opleiding by die Polisie Kollege deurloop. Toe Anna ‘n loopbaankeuse moes maak en Theunis haar sê dat dames vanaf 1972 vir die eerste keer kon aanmeld vir Polisiediens, het sy dit as ‘n roeping beskou.
“Ek het gevoel dit is iets wat ek móés doen en het dadelik my aansoek ingestuur. Die keuring was baie streng. Ons was net 102 aansoekers van regoor die land wat dit geslaag het. Ons opleiding was presies dieselfde as wat die mans deurloop het. Dit was baie intensief, want onthou, daar wees geen vroulike instruktrises nie. So, ons het geen genade gekry nie. Saans is ons in ons kwartiere toegesluit en is net af-en-toe toegelaat om iets by die kafeteria te gaan koop. Kyk, ons is met arendsoë dopgehou!”
In Julie 1972 is die eerste vroulike polisiebeamptes vir ‘n proeftydperk na verskillende stasies uitgeplaas en in Desember daardie jaar het hulle in volle uniform, handsakke, hoëhakskoene en handskoene op Loftus uitgepasseer.
Anna is na haar opleiding by die distrikshoofkantoor in Vereeniging ingesweer en as eerste vroulike polisiebeampte na die Vanderbijlparkse stasie uitgeplaas.
“Sommige mans was baie skepties en het gedink ons wou net die manne se plekke inneem. Ander het uit hul pad gegaan om my welkom te laat voel en te help,” onthou sy.
Sy het haar man, Don Smith, in 1973 in Vanderbijlpark ontmoet, waar hy ook ‘n polisieman en later ‘n Springbokskut was wat verskeie medaljes gewen het. Hulle is in 1975 getroud en hul oudste dogter, Monya, was die dorp se eerste “polisiebaba” – die kind van ‘n pa en ma wat albei dienend in die Polisie was. Anna en Don is vanjaar reeds 45 jaar getroud en het nog ‘n dogter, Adéle, en vier kleinkinders.
Anna vertel dat hier selfs in die vroeë jare van Vanderbijlpark reeds heelwat sensasionele misdaadsake was. Sommige was so ontstellend dat sy nie graag daaraan wil terugdink nie. Een wat haar altyd sal bybly was die verkragting van ‘n 18-maande oue dogtertjie, wie se ma sy goed geken het. Dan was daar ook ‘n moord en selfmoord waar ‘n man sy vriendin en homself om die lewe gebring het. Sulke sake ruk selfs die dapperste polisiebeampte, maar as jy die Polisie as ‘n roeping beskou en nie net ‘n werk nie, is daar geen beter loopbaan nie, sê Anna.
As polisievrou het sy ook die 1976-onluste meegemaak – ‘n lewensbedreigende tyd vir alle polisielede wie se werk selfs in normale omstandighede reeds gevaarlik genoeg is. Die stakings en oproer het jare lank aangehou en in ‘n stadium is Anna se knie sleg beseer tydens ‘n padblokkade. Nadat sy verskeie medaljes verwerf het, het sy die Polisiediens in 1992 om mediese redes verlaat.
Na haar opwindende loopbaan as polisievrou geniet Anna nou haar rol as “huishen”. Sy hekel graag, werskaf in en om die huis, en geniet die kleinkinders wat haar en Don lekker besig hou.
“Dinge in die Polisiediens het baie verander na 1994, maar in my hart sal ek hulle altyd ondersteun en erkenning aan hulle gee. Dat daar nog dié is wat onder baie moeilike omstandighede hul beste gee en uit hul pad gaan om die publiek te help, is verseker. Ek sal altyd in my hart ‘n polisiebeampte bly,” sê Anna.
* Haar jongste broer, Chris, was ook in die Polisie en haar ouboet, Nico Moolman, is ‘n bekende skrywer.

Lees meer oor die Vaaldriehoek se ou dae in Vaalweekblad se 55 Jaar Herdenkingsboek, wat nou te koop is. Dit kos R350 en sluit BTW en aflewering in Vaaldriehoekse woongebiede in. Vir Kontantbestellings, Whatsapp of SMS Nicky by 083 744 7711. Vir EFT-bestellings, Whatsapp of SMS Retha by 083 246 0523. Boeke kan ook na dorpe en provinsies buite die Vaaldriehoek versend word. (PostNet-versendingskoste ekstra).

Anna pas nadat sy ingesweer is as Vanderbijlpark se eerste polisievrou.

 

Anna en haar man, Don Smith in die 1970’s. Foto onder: Don en Anna vandag. Foto heel onder: Anna se pa (foto’tjie links bo in die collage) en twee van haar drie broers was ook lede van die Polisiediens.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button