News

Bouwerk aan R140 miljoen Heron Banks Square begin

Nuwe winkelsentrum in Vaalpark reeds 90% verhuur, met bekende handelsmerke wat hul plek verseker het en bouwerk wat reeds aan die gang is.

VAALPARK – Die eerste fase van die nuwe Heron Banks Square-winkelsentrumontwikkeling in Vaalpark verteenwoordig ’n belegging van ongeveer R140 miljoen.

Bouwerk is reeds aan die gang en sowat 90% van die winkelruimte is verhuur.

Die ontwikkeling is ’n afsonderlike eiendom van die bestaande Heron Banks Golf & River Estate en sal reg oorkant die landgoed langs Minnaarstraat geleë wees.

Checkers, Dis-Chem, Checkers Liquor, Econo Foods, KFC, The Crazy Store en Seattle Coffee Company is van die bevestigde huurders in die eerste fase.

Verteenwoordigers van verskeie van dié nasionale handelsmerke het die onlangse grondbreekgeleentheid bygewoon.

Die eerste fase sal ongeveer 6 125 m² se winkelruimte bied, met die sentrum wat na verwagting in Junie 2027 sal open.

Volgens die ontwikkelingspan is die besluit om die sentrum in dié deel van Vaalpark te bou gebaseer op die gevestigde residensiële mark in Vaalpark en die groter opvangsgebied wat ook Sasolburg en Vanderbijlpark insluit.

Die sentrum sal geriefs- en alledaagse kleinhandel, kos en eetplekke, leefstylwinkels en dienste bied. Beplanning vir nog twee fases is reeds aan die gang.

Volgens die ontwikkelaars sal dié fases die ontwikkeling later kan uitbrei namate die omliggende gebied groei.

Die ontwikkelingspan sê toegang, verkeer en padinfrastruktuur is tydens die beplanning in oorleg met die betrokke professionele en munisipale spanne in ag geneem.

Na verwagting sal tussen 120 en 220 tydelike konstruksieposte gedurende verskillende stadiums van die bouproses geskep word.

Sodra die sentrum in bedryf is, word verwag dat tussen 190 en 270 permanente direkte poste geskep sal word.

Dit sluit poste in kleinhandel, supermarkte, restaurante en wegneemetes, professionele en diensondernemings, sentrumbeheer, sekuriteit, skoonmaak en instandhouding in.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button