Twis oor Leeuhofgemeenskapsaal
Ten spyte daarvan kla Koos dat ’n groep lede van die gemeenkap die sleutels by hom afgeneem het en nou weier om dit aan hom terug te gee.
VEREENIGING. – Die gemeenkapsaal in Leeuhof is aan die kern van ’n twis tussen lede van die gemeenskap.
Pastoor Koos King wat reeds vir die afgelope 12 jaar kerk hou in dié saal, sê hy huur jaarliks die gebou en het reeds in Februarie die huurgeld vir die gebruik van die gebou betaal.
Ten spyte daarvan kla Koos dat ’n groep lede van die gemeenkap die sleutels by hom afgeneem het en nou weier om dit aan hom terug te gee.
Hy vertel: “Ek was in April vir sowat ’n week in die hospitaal en gedurende daardie tyd het Stanley Mashabela (raadslid van Wyk 15 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit), my gebel en gevra vir die sleutel.”
Volgens Koos is daar aan hom verduidelik dat hulle stoorplek nodig gehad het vir kospakkies.
Volgens Koos was die sleutel in daardie stadium in die besit van Susan Harris wat gereeld die saal oopgesluit het om daar te gaan skoonmaak.
“’n Paar lede van die gemeenskap is toe na Susan se huis om die sleutel te gaan afhaal. Susan was nie in daardie stadium by die huis nie, maar haar dogter het die sleutels vir hulle gegee,” vertel hy.
King is nou reeds uit die hospitaal ontslaan, maar sê die lede van die gemeenskap wat die sleutel geneem het, weier om dit terug te gee.
Hy sê hy het al vir lede van die gemeenskap vir die sleutel gevra, vir Stanley daaroor gekonfronteer en selfs die polisie se hulp ingeroep. Ten spyte daarvan is hy nou uit die kerksaal gesluit sonder ’n sleutel.
