Local newsNewsNews

Kos-karavaan woede in Vereeniging: Eienaar sal ‘n permit moet kry

VEREENIGING. – Die eienaar van ’n karavaan wat nou al vir dae langs Ringweg in Duncanville (oorkant Checkers) staan en verwoede argumente op sosiale media veroorsaak het, sê sy is nie ’n plakker nie, maar verkoop wegneemetes vanuit die karavaan.

Vaalweekblad het verlede week by die eienaar van die karavaan gaan aanklop nadat mense bespiegel het dat sy daar plak.

‘n Inwoner van die Arcon Heights woonstelkompleks oorkant die straat was vroeër bekommerd oor die karavaan en het beweer dat hulle besig was om ‘n tent daar op te slaan.
“Voor ons ons oë uitvee, is hierdie ‘n nuwe plakkerskamp of gratis karavaanpark,” het die inwoner op Facebook geskryf.
Maar die eienaar van die karavaan, wat nie haar identiteit wou verstrek nie, sê sy is ’n inwoner van Duncanville wat erg deur deur die Covid-19 pandemie en gepaardgaande staat van inperking getref is.

“Ek het onlangs my werk verloor. In plaas van om by die huis te sit, het ek gedink dat ek geld kan verdien deur wegneemetes aan verbygangers te verkoop.
“Ek het hierdie plek gekies omdat dit langs ’n besige pad is waar baie mense beweeg.”
Die vrou het by navraag erken dat sy nie oor enige permit beskik of aansoek gedoen het om vanaf die perseel handel te dryf nie.

Chuchi Radebe, ’n woordvoerder vir die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het by navraag gesê dat alle straatsmouse wat binne die munisipaliteit se jurisdiksie handel dryf oor geldige handelspermitte moet beskik.

“Smouse word toegelaat om op sekere aangewese plekke handel te dryf. Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se departement van plaaslike ekonomiese ontwikkeling sal aansoekers kan inlig of die ligging geskik is om vanaf handel te dryf, al dan nie,” verduidelik Radebe.

Volgens Radebe word dit ook van smouse verwag om vanuit verskuifbare struktuur soos ’n tent of karavaan handel te dryf. Indien daar vanuit ’n karavaan handel gedryf word, moet die voertuig ook geregistreer wees en ’n geldige lisensie hê. Die departement van gesondheid moet in so ’n geval ook ‘n sertifikaat uitreik wat die karvaan as ’n voedselverkoper sertifiseer.

Volgens Radebe het munisipale beamptes die vrou intussen besoek en haar ingelig en raad gegee in terme van die nakoming van bywette.
“Die eerste stap sal wees om ’n geldige sertifikaat van die departement van gesondheid te bekom en dan ’n handelspermit van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se departement van ekonomiese ontwikkeling te bekom. “Dan sal sy ook vir ’n lisensie vir die karavaan moet aansoek doen.”

Sy is toegelaat word om tot die einde van die week daar handel te dryf sonder die nodige papierwerk, terwyl sy kans gegun kan word om haar dokumentasie in orde te kry.

*Op die hoek van Ou Johannesburgweg en die M61 – baie naby aan die veld waar die vrou se karavaan staan – bly daar al vir jare lank ’n hawelose man wat dag in en dag uit op ’n bed onder ’n advertensiebord naby die Kopanong hospitaal lê.

Die eienaar van die karavaan sê sy verkoop wegneemetes vanuit die karavaan. Sy wou nie vir Vaalweekblad haar naam sê nie. Foto: Moleboheng Chaha
Mense is bekommerd oor die vrou wat wegneemetes vanuit ’n karavaan verkoop. Oorkant die straat bly die hawelose man van Arcon Park wat al jare op ’n bed onder ’n advertensiebord op die hoek van Ou Johannesburgweg en die M61 bly. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button