Massa patrollie om misdaad in Vaal te bekamp
VEREENIGING. – Geskiedenis is Vrydagaand, 14 Augustus gemaak toe die polisie, Public Eye Vaal en ‘n groot aantal sekuriteitsfirmas en gemeenskapspolisiëringsforums kragte saamgesnoer het om misdaad te bekamp.
Almal het om 20:00 by die Riverside Mall bymekaargekom voordat die 60 voertuie in konvooi met die polisie voor aan, met die patrollie begin het. Teen 22:00 het die konvooi weer by Fourways in Vereeniging gestop, alvorens die kleinhoewes in Heidelberg se rigting gepatrolleer is. Die massa patrollie het tot na middernag geduur, met sowat 90 mense wat deelgeneem het.
Arrie Coetzee, stigter en hoof uitvoerende beampte van Public Eye Vaal, het gesê hulle het sowat ‘n maand gelede na die polisie in Vereeniging uitgereik in ‘n poging om groter samewerking te bewerkstellig.
Public Eye was reeds aktief in Sasolburg en Vanderbijlpark, maar daar het ‘n behoefte ontstaan om ook in Vereeniging diens te lewer. Hulle het toe ‘n voorlegging vir moontlike samewerking aan die polisie gedoen, met gunstige gevolge. Public Eye word nou formeel ook in Vereeniging erken om saam met die polisie en die gemeenskapspolisiëringsforums te werk om misdaad te bekamp.
Die massa patrollie is gereël as amptelike bekendstelling van Public Eye in Vereeniging.
Arrie sê hulle was verras met die groot opkoms. Massa patrollies van die aard sal voortaan een maal per maand in Vereeniging, Vanderbijlpark en Sasolburg gehou word. Dit vorm ook deel van die polisie se sigbare polisiëring. Die volgende massa patrollie word einde Augustus in Vanderbijlpark beplan.
Public Eye Vaal het ook onlangs ‘n formele vennootskap met ER24 Emergency Medical Services gesluit. Arrie sê dit is belangrik dat almal saamwerk om misdaad te bekamp.

