2020 geen laagtepunt vir Gimmies se Xanthé
VEREENIGING. - Die jaar 2020 sal vir baie as ‘n laagtepunt in hul lewens onthou word, maar dit is beslis nie die geval vir Xanthé le Roux nie. Dié graad 10-leerder van Vereeniging Gimnasium was een van meer as 3 000 deelnemers aan vanjaar se landwye Talent Africa Nationals.
Nie eens die nasionale inperking kon die kunste stuit nie! En het Xanthé nie haar deelname laat geld nie. Sy het behoorlik ‘n hele sak vol medaljes verower. Sy het in totaal nege gouemedaljes en twee silwermedaljes vir drama, eisteddfod en model verwerf. Danksy dié pragtige prestasies was dit dus geen wonder dat sy ook onder die Top 10 eisteddfod, sowel as Top 10 model geëindig het nie. Dit het aan haar Gautengkleure besorg.
Die kersie op die koek is dat dit boonop die tiende jaar is wat sy aan die kompetisie deelneem. Hiervoor is sy met ‘n spesiale 10 jaar toekenning van Talent Africa beloon.
Hoewel 2020 dus vir haar ‘n goeie jaar was, sal sy beslis met groot afwagting na 2021 uitsien.
Xanthé het gekwalifiseer om Suid-Afrika aanstaande jaar tydens die Talent America-kompetisie, asook die Mediterranean Legends International Art Festival in Spanje te verteenwoordig.
* Vaalweekblad is net so trots op haar soos Vereeniging Gimnasium. Baie geluk Xanthé.
