Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – ‘n Voormalige burgemeester en bekende oud-apteker van die dorp, mnr. Gustaaf du Toit (83), is nog ‘n naam op die lang lys slagoffers wat reeds deur Covid-19 in Suid-Afrika geëis is. Hy sal veral onthou word vir sy talle bydraes in die Vaaldriehoek se plaaslike bestuursake.
Mnr. Du Toit is verlede jaar op sy verjaardag, 23 November, in ‘n hospitaal in Mosselbaai opgeneem en is op 11 Desember ontslaan. Sy toestand het egter versleg en hy is op 24 Desember in die Groenkloof-versorgingsoord in George oorlede. Sy vrou, Mariana (81), het ook die siekte opgedoen terwyl sy vir kolonkanker in die hospitaal behandel is, maar is reeds ontslaan en sterk tans in die versorgingsoord aan.
Vir die Du Toits se seun, André, ‘n bekende mediese dokter van Vanderbijlpark, en sy vrou, Annelie, was dit ‘n besonder donker Kerstyd. Buiten mnr. Du Toit se afsterwe is Annelie se ma, mev. Bets Bothma, in dieselfde week aan Covid-19 oorlede.
Mnr. Gustaaf du Toit het aan die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg gematrikuleer en sy graad in Aptekerswese aan die destydse Potchefstroomse Universiteit verwerf voordat hy en sy vrou hulle in die 1961 in Vanderbijlpark gevestig het. Hier het hy en sy vennoot, mnr. Wiks Erasmus, Koedoe Apteek in die dorp se hoofstraat geopen voordat hy mettertyd by stadsraadsake betrokke geraak het.
In 1972 het mnr. Du Toit op die jong ouderdom van 35 jaar, burgemeester van Vanderbijlpark geword. In 1984 het hy lid van die Provinsiale Raad vir die Vanderbijlpark-kiesafdeling geword. Hy was die eerste voorsitter van die Vaaldriehoekse Streekdiensteraad voordat hy in 1992 vir dr. Gerrit Viljoen as lid van die Volksraad opgevolg het. Na hul aftrede het die Du Toit-egpaar hulle in Ellisras en later in Klein Brakrivier gevestig.
“My pa was ‘n goeie mens wat nooit geld of eiebelang nagejaag het nie. Hy het net die dorp se belange op die hart gedra,” sê sy seun, André. “Bedags was hy apteker en saans het hy vir die dorp gewerk. Deur dit alles was hy ‘n familieman wat ‘n goeie opvoeding vir sy kinders wou gee. Hy het ons byvoorbeeld van kleins af geleer hoe belangrik eerlikheid is. Hy het altyd gesê as mens skelm is, sal dit jou uiteindelik inhaal.”
Prof. Piet Prinsloo, oudrektor van die destydse PU vir CHO se Vaaldriehoekkampus, wat self diep spore as raadslid en burgemeester van Vanderbijlpark getrap het, onthou wyle mnr. Du Toit vir sy groot rol in plaaslike politiek. Hy was egter ook ‘n gesinsman by uitstek, wat graag vriende by sy huis onthaal het, sê prof. Prinsloo. Redaksielede van Vaalweekblad wat oor die destydse stormagtige plaaslike politiek verslag moes doen, onthou mnr. Du Toit ook as ‘n man wat konfliksituasies met ‘n koel kop kon ontlont en mense met verskillende oortuigings kon saamsnoer om gemeenskaplike doelwitte te probeer bereik. Hy was ‘n groot rugby-liefhebber en vurige Leeus-ondersteuner wat ook in sy persoonlike lewe baie gesteld was op fiksheid. Om dié rede het hy destyds gereeld met sy fiets werk toe en terug gery.
* Wyle mnr. Du Toit word buiten sy vrou en seun ook oorleef deur ‘n dogter, Anél, wat in Omaruru, Namibië woon, sowel as sy skoonkinders, vier kleinkinders en een agterkleinkind.





