VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende egpaar wat dekades lank hul stempel op sakegebied in die Vaaldriehoek afgedruk het, mnr. Dries en mev. Trudie Wessels, is binne minder as ‘n maand na mekaar aan Covid-19 oorlede.
Volgens hul dogter, mev. Tossie Botes, het albei haar ouers rondom 11 Julie Covid-19 opgedoen. Mnr. Wessels is op 14 Julie in die Life Suikerbosrand-hospitaal in Heidelberg opgeneem en mev. Wessels op 21 Julie in Netcare Vaalpark, waar sy op 24 Julie beswyk het. Mnr. Wessels het op 4 Augustus sy stryd teen die siekte verloor.
Dries is op 19 Maart 1937 in Evaton gebore en het as een van sewe kinders daar grootgeword. Evaton was destyds ‘n semi-landbousentrum van die Vaaldriehoek. Trudie is op 14 Mei 1943 as een van vier kinders in George gebore. Hulle is op 8 Oktober 1960 getroud en het hulle na hul troue in die Vaaldriehoek gevestig. Die egpaar het hul 60ste huweliksherdenking verlede jaar te midde van die grendeltyd gevier.
Dries het dekades gelede ‘n outo-elektriese onderneming, Auto Sparks, in Curie-boulevard begin, waar Trudie 34 jaar saam met hom gewerk het. In 1982 het sy self ook ‘n onderneming, Boutique Riandi, geopen, wat vinnig naam gemaak het as een van die deftigste modewinkels in die Vaaldriehoek. Buiten sakevrou was Trudie ook ‘n uitstekende bakster en het ook graag kuns beoefen. Volgens Tossie het haar ma haarself die laaste tyd ook hiermee besig gehou.
“Sy het beskuit en heerlike vetkoek gebak, met Herfsoord as ‘n groot kliënt. My pa het altyd vroegoggend om 04:00 saam met haar opgestaan en graag gehelp bak aan al die vetkoeke. Hy het ook heerlik saamgeëet aan die beskuit, saam met ‘n koppie tee,” sê Tossie.
Jarelange inwoners van die Vaaldriehoek onthou die egpaar as ‘n ware “dame en heer” van die sakegemeenskap. Dries het sy lewe lank sy medemens onbaatsugtig finansieel gehelp waar hy kon, met ‘n besondere hart en liefde vir kinders. Trudie het graag na haar medemens geluister en talle vriendskappe gesmee.
“Sy het diep spore in soveel mense se lewens getrap deur werklik te kon luister, raad te gee en hulp te verleen oral waar sy gekom het, sonder om ooit iets terug te verwag,” sê Tossie.
Buiten Tossie word die egpaar oorleef deur nog ‘n dogter, mev. Tippie Rautenbach en seun Andrei Wessels, skoonkinders, twee kleindogters en ‘n agterkleinseun vir wie hulle baie lief was.
‘n Private troosdiens sal mettertyd vir die egpaar gehou word.

********************************************************************************************************************
