Local newsNewsNews

Hospitaal hare-was sorg vir bietjie pret

Op 'n ligter trant, want lag is altyd goeie medisyne. Dankie ook aan die duo wat selfs na 'n lang dag op hul voete kans gesien het om so 'n nat storie aan te pak.

Om in die intensiewe sorgeenheid met Covid-19 te beland, was traumaties en baie moeilik. Tog, selfs in daardie tyd was daar ligter oomblikke.

Die hospitaal waar ek was, het ‘n voorkant intensiewe eenheid waar een suster per pasiënt diens doen.

‘n Lawaaierige plek met al die monitors waaraan elkeen van ons gekoppel was.

Na ‘n week is ek van die ventilator bevry en het ek daardie witpyp-suurstof gekry. Kon ek toe skuif na die agterkant waar een suster na so twee pasiënte omsien.

Buite was dit al aan die donker raak toe een van die susters inkom. Sy is eintlik ‘n teatersuster, maar soos baie ander, help sy in die Covid-sale uit as sy die kans kry.

Haar naam is Lee-Anne (ek is nie seker van die spelling nie) en sy kom my net gou was.

Dis nou een ding as jy in intensief is, jy kan niks, maar niks vir jouself doen nie.

Teen die tyd toe ek, my hospitaal-jurkie en beddegoed alles skoon was, beloer sy my hare.

My hare was op daardie stadium seker twee weke laas gewas en amper net so lanklaas geborsel.

“Het jy ‘n borsel hier?” vra sy. Ek bevestig ek het al een in my badkamersakkie bespeur as iemand iets daaruit haal.

Self het ek nog nie die sakkie onder hande gehad nie.

Sy kry die borsel uit, skuif die suurstofpype eenkant toe en borsel plegtig my hare uit.

“Ai, is jammer ek kan dit nou nie vir jou was nie,” sê sy.

Die volgende oomblik trek sy die haarrekkie onder die kappie uit haar eie hare uit.

“Ek het nie luise nie. Kan ek jou hare vir jou vasmaak uit jou gesig uit?”

Ek sluk eers ‘n groot knop in die keel weg. “Asseblief?”

My hare word in ‘n astrante ponie bo-op my kop vasgemaak.

Minder as 10 minute later is Lee-Anne terug in my kamer.

Die keer met iets wat soos ‘n opblaas badjie lyk.

“Kyk wat het Ronel in die stoorkamer gekry. Dis om mense se hare te was terwyl hulle in die bed lê. Nog nooit gebruik nie. Ek gaan nou jou hare was.”

Ek begin, suurstofpypies onder die neus en al, klaar lag, want ek sien hier kom ‘n ding.

Sy gaan tap die sak vol warm water en hak dit sommer op een van die drip-staanders.

Handdoek oor die kopkant van die bed. Eers ‘n hele gedoente om my met al die drade en pypies opgeskuif te kry.

Aan die sak met water is daar ‘n pyp wat in ‘n stortkop eindig. Die badjie self het ‘n kraantjie waar die water uitgetap kan word.

Voordat sy kan begin is Ronel ook in die kamer om te kyk of dit gaan werk.

Die joernalis in my skop in. “Terwyl ek nou die eerste een is wie se hare so gewas word, moet julle dalk foto’s neem,” stel ek voor.

Ronel het dadelik haar selfoon uit. Sy neem net foto’s.

Lee-Anne trek gesigte vir die kamera en ek lag te lekker.

Sjampoe kon hulle nie opspoor nie, maar ‘n bottel van daardie pienk anti-bakteriese seep word ingespan.

Dis al naby die tyd dat hul moet huis toe gaan, maar die twee is nie haastig nie.

Nadat my hare gewas is, word dit weer vasgemaak en ‘n handdoek oor die kussing gesit.

“Jammer ons het nou nie ‘n haardroër nie,” sê Lee-Anne.

“Dis skoon. Dis al wat tel,” glimlag ek. “Dankie.”

Sy tap die water uit in ‘n emmer. Gooi die leë botteltjie anti-bakteriese seep weg.

“Na dese sal daar nie ‘n kiem naby jou kom nie. Ons het jou nou ge-anti-bakteries van kop tot tone.”

Ons lag. Dit was goed en dit was lekker. ‘n Mens mag lag, selfs in moeilike omstandighede. Dis goed en dis lekker.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button