News

Nagevolge van virus neem nóg ‘n geliefde eggenoot en pa

“Jaco was ‘n wonderlike man wat baie mense se lewens aangeraak het. Ek dank ons Vader vir die wonderlike 26 jaar wat Hy Jaco deel van my lewe gemaak het,” sê Linda, sy weduwee.

VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende inwoner van die dorp, mnr. Jaco Kloppers (48), is op 5 Oktober in Cormed-hospitaal oorlede na ‘n moedige stryd van 62 dae teen die nagevolge van Covid-19.

“Jaco is op 28 Julie met post-Covid-longontsteking gediagnoseer en was van 4 Augustus tot met sy afsterwe op 5 Oktober in die hospitaal. Hy het elke dag dapper baklei maar op die ou einde was sy lyf net te moeg en het hy aan meervoudige orgaanversaking gesterf,” sê sy bedroefde weduwee, Linda.

Jaco is op 11 Februarie 1973 in Vanderbijlpark gebore en het aan die Laerskool Kollegepark en Hoërskool Driehoek skoolgegaan. Na skool het hy ‘n kwalifikasie in Biotegnologie aan die Vaal Universiteit vir Tegnologie (VUT) behaal, maar het op ‘n loopbaan in rekeningkunde besluit. Hy was tot met sy dood ‘n ouditeur verbonde aan SARS in Alberton, hoewel hy en sy gesin nog altyd in Vanderbijlpark gewoon het.

Hy het ‘n wye belangstelling in die wêreld om hom gehad, wat hy uitgeleef het in verskeie stokperdjies soos fotografie, tegnologie en veteraanmotors. Hy was ook baie lief vir reis.

“Ons is op 25 April 1998 getroud… en watter wonderlike jare het ons nie saam gehad nie! Hy was my soulmate en het my lewe verryk,” sê Linda. Die kroon op hul geluk is gespan met die geboorte van hul dogter, Venuschka, nou 21.

“Tydens sy 62 dae in die hospitaal was ons so geseënd om hom elke dag in Cormed se intensiewe sorgeenheid te kon besoek. Die susters en dokter was baie tegemoetkomend en het ons geakkommodeer waar hulle kon. Ons wil daarom spesifiek vir suster Adri Engelbrecht, suster Petra Smal, suster Susan Wagner, suster Patricia, en dokter Pieter Lategan bedank vir alles wat hulle vir Jaco gedoen het,” sê Linda.

‘n Gedenkdiens vir Jaco is op 12 Oktober by die NG Gemeente Vanderbijlpark-Sentraal gehou. Hy word buiten sy vrou en dogter ook deur ‘n suster, Suné, oorleef.

“Jaco was ‘n wonderlike man wat baie mense se lewens aangeraak het. Ek dank ons Vader vir die wonderlike 26 jaar wat Hy Jaco deel van my lewe gemaak het,” sê Linda.

Foto’s onder: Só sal Jaco Kloppers se geliefdes hom onthou.

Foto heel onder: Jaco saam met sy vrou Linda en dogter Venuschka

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

**********************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button