Streng keuring voor sonkragmotors die lang pad aandurf
Die 2026 Sasol Solar-uitdaging vind van 10 tot 17 September plaas en skop amptelik op 10 September om 09:00 in Sasolburg af.
Die keuring vir die 2026 Sasol Solar-uitdaging het gister in koue, winderige weerstoestand by die Red Star-renbaan begin.
Tydens hierdie proses moet die handgemaakte voertuie wat ingeskryf is aan ‘n streng reeks kontroles voldoen, nog voordat ‘n enkele kilometer van die 2 500 km-uitdaging gery kan word.
“Die toestande op die perseel is alles behalwe genadig. Koue temperature, ‘n snerpende wind en onderbroke reën het sowel die voertuie as hul spanne deeglik beproef.
“Vir baie was dit ‘n voorspelling van die onvoorspelbare weer wat hulle te wagte kan wees sodra hul motors op Suid-Afrika se oop paaie kom.
“Weerstoestande is net so ‘n groot teenstander en uitdaging vir deelnemers as wat die lang pad is,” sê Bruce Crossey, die man in beheer van alle media-inligting.
Statiese keuring
Statiese keuring is ‘n gedetailleerde, stilstaande inspeksie van elke voertuig.
Beamptes ondersoek die onderstel, elektriese stelsels, battery-omhulsels, remstelsels, bestuurderssigbaarheid en die algehele bougehalte van elke enkele sonkar teen die uitdaging se tegniese regulasies.
Hierdie fase van inspeksie is noodsaaklik omdat elke sonkar in die Sasol Solar-uitdaging van die grond af ontwerp en gebou is deur die span wat dit bestuur, en geen twee voertuie eenders is nie.
Die keuring verseker eerstens dat alle deelnemende voertuie aan veiligheidsvereistes voldoen, voordat hulle die SA paaie met alledaagse verkeer sal deel tydens die uitdaging. .
Dit verseker ook regverdigheid dat elke span onder dieselfde tegniese reëls meeding, sodat die finale uitslae strategie, ingenieurswese en uithouvermoë weerspieël.
Dinamiese keuring
Voertuie wat die statiese keuring slaag, beweeg dan aan na dinamiese keuring, waar motors in beweging getoets word.
Hier word meer mobiele aspekte soos hantering, remreaksie en die padgedrag van elke motor beoordeel voordat spanne formeel toestemming kry om hul plek op die wegspringrooster in te neem.
Hier is van die deelnemers en hul voertuie tydens gister se keuring by Red Star-renbaan.
Foto’s verskaf deur Sasol Solar Challenge.





