News

Plaaslike regeringsverkiesing: Groei van 242% bevestig VF Plus as een van Groot Vyf

Die VF Plus het nou verteenwoordiging in al agt metro’s in Suid-Afrika.

 

“Die uitslag van die 2021-plaaslike regeringsverkiesing en die VF Plus se fenomenale groei van 242% bevestig die party nou onteenseglik as een van die Groot Vyf rolspelers op die Suid-Afrikaanse politieke landskap.” Só sê dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, in ‘n mediaverklaring wat vanoggend, 5 November, uitgereik is.

Hy sê die uitslag is nie net ʼn reuse-oorwinning vir die VF Plus nie, maar ook vir minderhede van regoor Suid-Afrika wat ʼn tuiste gevind het in die party wat oor die laaste jare van krag tot krag gegaan het.

“Een van die enkele groot redes hiervoor is dat die party by herhaling gewys het dat hy bogemiddeld presteer het met die beperkte steun wat hy wel gehad het en dat hy standvastig op pad is om ʼn beter Suid-Afrika vir al die land se inwoners te help skep. Dit het wyd vertroue ingeboesem,” is Groenewald se verklaring vir die party se merkwaardige groei.

Die VF Plus het nou verteenwoordiging in al agt metro’s in Suid-Afrika, naamlik in:

Nelson Mandelabaai (Oos-Kaap)
Buffalo City (Oos-Kaap)
Kaapstad (Wes-Kaap)
Tshwane (Gauteng)
Ekurhuleni (Gauteng)
Johannesburg (Gauteng)
Mangaung (Vrystaat)
eThekwini (KwaZulu-Natal)

Die party het veral geweldige groei in Tshwane (Pretoria) beleef met ‘n toename van 325% in die aantal raadslede.
Die party het ook agt wyke verower.

“Die VF Plus is die koningmaker in baie rade waar geen enkele party ‘n meerderheid op homself verenig het nie. Die groot aantal rade waar koalisieregerings gaan geld, bewys die VF Plus se standpunt dat veelpartyregerings die toekoms van Suid-Afrika is, as reg,” sê Groenewald.

“Die VF Plus wil sy opregte waardering uitspreek teenoor al sy ondersteuners wat gaan stem het en opgestaan het vir beter dienslewering. Hulle het daarmee die reg vir hulself voorbehou om aktiewe deelnemers te wees in die stryd en strewe om Suid-Afrika weer ʼn ware tuiste vir al sy inwoners te maak en die verval in die land stop te sit.”

Dr Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button