News

‘Die man met die kruis’ stap ook deur die Vaal

‘n Reuse-houtkruis wat 137 kg weeg en drie meter lank is, is Patrick Styles se getroue metgesel op sy reise.

OPDATERING: Patrick se vrou wys daarop dat die kruis in die 30 kg weeg en nie 137 kg soos wat Vaalweekblad aanvanklik berig het nie. Ons vra verskoning vir die fout en het dit reggestel in die opgedateerde berig hier onder.

SASOLBURG. – Suid-Afrika het sy eie ‘Forrest Gump’. Hy is mnr. Patric Styles (60), wat agt jaar gelede besluit het om die pad te vat.

Patrick het sedert 2013 reeds meer as 10 000 kilometer per pad afgelê, maar anders as Forrest in die rolprent, weet Patrick presies waarheen hy wil gaan en wat sy boodskap op elke reis sal wees: Hy wil Suid-Afrika se inwoners van God se liefde vertel en mense terselfdertyd bewus maak van die moorde op ons land se boere. Hy bid op sy togte ook vir reën in droë gebiede.

Patrick, ook bekend as “die man met die kruis”, se roete het hom vroeër die maand deur Parys en die Vaaldriehoek geneem, waar hy ‘n naweek by ‘n Sasolburgse gesin deurgebring het.

Patrick is jare gelede medies ongeskik verklaar om te werk nadat hy in ‘n ongeluk by ‘n myn in Rustenburg betrokke was. Hy kon egter nie stilsit nie en het in 2013 begin om vanaf sy tuisdorp deur die land te stap om God se Woord by kerke, ander openbare plekke en aan enigeen wat hy op sy pad teëkom, te verkondig.

‘n Reuse-houtkruis wat in die 30 kg weeg en drie meter lank is, is sy getroue metgesel op sy reise. Hy sleep die kruis, wat gedeeltelik op ‘n raamwerk met wieletjies rus, oor sy skouer. Die raamwerk bevat sy koelhouer met ‘n bietjie kos en water, ‘n paar kledingstukke, ekstra wiele vir die sleepwa, ‘n slaapsak sowel as sy Bybel. Hy slaap snags by vulstasies of ander veilige plekke en soms bied inwoners vir hom ‘n bed vir die nag aan, soos Suzet Venter van Sasolburg, wat deur die Vrystaat Reaksiegroep en AfriForum verneem het dat hulle slaapplek vir hom wou reël vir die Vrydagaand. Suzet het hom die betrokke middag net voor die afrit na die N1 aangetref.

“Dit was die dag vreeslik warm en ek kon sien dat hy gedaan was. Boonop is hy deur bye aangeval. My seun het die kruis op sy bakkie gelaai en ons het Patrick huis toe geneem waar hy dadelik ‘n warm bad kon neem. Ons het ook medisyne vir hom gaan kry vir ‘n blaasinfeksie. Hoewel hy die volgende oggend verder wou loop, het ons hom oorreed om te rus en tot die Maandag te bly. Wat ‘n wonderlike persoon om mee te kuier. Ek wens hom alle voorspoed toe op sy pad,” sê Suzet.

Patrick het al deur talle van die land se kleinste dorpies en grootste stede geloop. Hy het ook al duisende kilometer deur ons tuislande soos Mosambiek, Swaziland en Zimbabwe gestap. Na elke wekelange staptog herstel hy tuis in Rustenburg en werk ‘n nuwe roete uit voordat hy opnuut die langpad aandurf.

Dit sit nie in elke ou se broek om roetes van duisende kilometer alleen en per voet aan te pak nie, tog sê Patrick dat hy nog nooit gevoel het hy stap alleen nie. Hy is oortuig dat Jesus elke tree van die pad by hom is. Hy het deur die jare wel ‘n paar lewensgevaarlike oomblikke beleef, soos toe hy in Bizana in die Oos-Kaap in rowers en die polisie se kruisvuur beland het. Hy het vinnig by ‘n nabygeleë vulstasie gaan skuiling soek, maar die rowers het hom vasgekeer en probeer om sy kruis af te neem. Hy het met alle mag daaraan vasgeklou maar die rowers kon wel wegkom met die kruis se ligte en die handjievol besittings wat hy op sy togte saamneem. Nadat Patrick huis toe is om die kruis te herstel, was hy gereed vir sy volgende staptog.

“Ek bid vir ons land se boere – en ook vir die plaasmoordenaars in die geloof dat God hulle harte sal vul en van hul bose weë sal laat wegdraai,” sê Patrick.

 
Op Sasolburg kon Patrick darem ‘n bord lekker kos en ‘n sagte bed kry toe mev. Suzette Venter hom genooi het om ‘n naweek by hulle te oornag.

Patrick Styles met die houtkruis kenmerkend oor sy skouer terwyl hy Suid-Afrika te voet deurkruis. Foto: Record East

*********************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button