Ek sê maar net …
Rubriek. - Altyd 'n besonderse gesig om te sien, onse Vaalrivier wat breëbors oor sy walle stroom.
Dit was ‘n hele gedoente. Agt sluise oop by die Vaaldam het ‘n hele gedruis in die Vaalrivier veroorsaak.
Hier teen 24 April vanjaar het die water al so effe begin terugtrek, maar onse rivier het nog steeds sy walle plek-plek breëbors oorstroom.
Die Sondagoggend gaan loer ek en Ma eers op die brug die naaste aan die Barrage. Die wind waai ons kapsels dwars en die rivier vloei sterk.
Ons kruie aan tot in Parys, Vrystaat. Stop eers by die hangbrug. Oral kuier mense op en langs die brug. Neem selfies terwyl die Vaalrivier onder verbystorm. Skoon opgeklits die rivier daar.

Ons stap so ‘n entjie op, mense sit omtrent van die teerpad af en visvang. Grote bome se boonste stukke steek uit. Klein eilandjies is onder water.
Terug deur die dorp tot by die groot brug wat oor die rivier tot binne in Noordwes strek. Die brug is gewoonlik langer as die rivier.
Nie vandag nie. Dis die breedste wat ek die rivier nog gesien het.
Ek kry vir Mich, my Yankee ‘n stilhouplekkie aan die Noordwes kant en ons loop terug brug se kant toe. Gedag ons gaan net tot so by die begin loop, die water bespied en dan omdraai.
Toe nou nie. Ma is op ‘n missie, sy loop wraggies weer al die pad terug tot binne in die Vrystaat om die rivier in sy volle breedte en bruising te aanskou.

Vertel van die wal waar sy en haar pa altyd oor is om te gaan visvang. Hoe sy die vispap “per ongeluk” in die water geskop het as sy moeg geword het van stilsit sodat hul kon loop.
Ons kruis die pad en begin die terugtog. Die Yankee blink blou in die verte. Die rivier raas amper oorverdowend.
Net anderkant die brug, met die water wat teen die heining spoel, staan ‘n tent. Op pad terug na die motor hoor ons kinders sing. Jesus-liedjies.
Min gepla deur die water wat meters nader aan hul raas as gewoonlik. Ek ry via die Vrystaat terug Gauteng toe.
Die blink van die Vaalrivier op vol spoed steeds in my gedagtes.
Ek onthou vroegoggende se saam met pa gaan visvang by die rivier. Dit was lank terug se dae voor die Vaalrivier toegebou is in Vanderbijlpark.
Toe kon mens nog maklik tot by die rivier kom. Ons het ons gunstelingplek onder die bome gehad.
Gaan kyk gerus hier na ‘n kort video van die rivier https://youtu.be/MGuW8s9zQgg
Pa het altyd gesê ek moet stilsit want die voëls wat so raas is katlagters en hulle gaan my visstok vat as ek nie kyk nie. (Eers jare later besef hy’t van die hadeda’s gepraat en dat hulle geen belangstelling in visstokke het nie.)
Ek onthou hoe die Vaalrivier my gefassineer het. Die rivier het eindeloos gelyk en breed met die Vrystaat doer ver aan die anderkant. Die visse het vlak voor ons gedraai. Die voëls het in die bome gesels.
Nie seker wat het van daardie stukkie paradys geword nie. Vir ewig verlore.
Dit was lekker om die Vaalrivier in vloed te sien. Sterk en magtig, ver oor sy normale walle was mensgemaakte paadjies, afdakke en ligte onder water.
Miskien om ons te herinner, die Vaalrivier is nie maar net ‘n stroompie wat deur die mens gemanipuleer en besoedel kan word nie, dis ‘n magtige rivier wat op vol sterkte ‘n pad sal forseer waarteen die mens magteloos staan.
Dalk moet ons die Vaalrivier met groter respek begin hanteer. Sela.

