News

Sunshine se wonderbaarlike herstel

Sunshine se verhaal is bewys van die verskil wat liefde, omgee en toewyding kan maak.

VANDERBIJLPARK – Die personeel en vrywilligers van Vaalpets het oor die jare heen al talle honde se lewens gered.

Elke suksesverhaal is ’n oorwinning vir diere in nood, maar die verhaal van Sunshine is een wat almal nog lank sal bybly.

Sunshine, ’n erg beseerde Rottweiler, is op 14 April deur Vaalpets ingeneem. Haar toestand het selfs die mees geharde diereliefhebbers diep geraak.

“Dit was hartverskeurend. Sunshine was stukkend gebyt,” vertel Andey Wrigley, woordvoerder van Vaalpets.

“Sy het ’n groot, oop wond op haar kop gehad wat reeds vol maaiers was. Aan haar nek was verskeie diep bytwonde, elkeen ewe erg besmet. Daar was ook ’n diep wond aan een voorbeen en ’n groot skeur aan die binnekant van haar linkeragterbeen.”

Die arme hond was so swak dat sy nie kon staan, sit of eet nie. Haar uitgeteerde lyf was oortrek van die bosluise, en vir die versorgers het dit gelyk of elke asemteug haar laaste kon wees.

Volgens haar eienaar het Sunshine tydens ’n inbraak ontsnap en is sy deur ander honde aangeval. Hy het haar eers dae later hulpeloos in die veld gevind. Teen daardie tyd het vlieë reeds eiers in die oop wonde gelê.

Sunshine is in gehawende toestand by Vaalpets ingeneem.

By Vaalpets is daar onmiddellik drastiese stappe gedoen om haar lewe te red.

Sunshine is op ’n drup gesit sodat lewensreddende medikasie toegedien kon word, hoewel haar kanse op oorlewing uiters skraal gelyk het.

Dr. Christa Schmidt van Animaland in Vaalpark het ’n intensiewe behandelingsplan voorgeskryf. Elke wond is sorgvuldig skoongemaak en behandel, terwyl Dectomax gebruik is om die maaiers een vir een te verwyder.

“Sy was vier dae lank aan die drup gekoppel. Omdat sy self nie kon eet nie, het ons haar versigtig met ’n spuit gevoer,” vertel Andey.

“Die eerste week was angswekkend. Elke oggend het ons asem opgehou voordat ons na haar gaan kyk, en elke oggend was daar ’n oorweldigende gevoel van verligting as ons sien sy leef nog.”

Sunshine se wonde is twee keer per dag skoongemaak en die oop wond aan haar been is sorgvuldig verbind.

‘n Tweede kans

Weke het verbygegaan en die vordering was stadig, maar Sunshine se wil om te leef was onwrikbaar.

Ses weke van intense sorg, antibiotika en toegewyde liefde het die onmoontlike moontlik gemaak: Sunshine het volkome herstel.

“Die gebroke hond wat ons die eerste keer ontmoet het, het verander in ’n gesonde, pragtige dier wat goed gewig opgetel het. Sy het geen permanente skade oorgehou nie.

“Sy is nou weer presies wat haar naam beskryf – helder, liefdevol en vol lewe,” sê ’n dankbare Andey.

Om die sprokie te voltooi, spog Sunshine reeds met ’n nuwe “vir altyd”-tuiste waar sy vir die res van haar dae gekoester, beskerm en liefgehê sal word.

Sunshine se verhaal is nie net ’n bewys van ’n dier se ongelooflike deursettingsvermoë nie, maar ook van die tasbare verskil wat liefde, omgee en gemeenskapstoewyding kan maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button