Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Ek vind inspirasie in die Comradesmarathon - soortvan, kou naels oor Kollega Christiaan wat die langpad aangedurf het en besluit om my by skryf te hou.
RUBRIEK. – Op ‘n koue Maandagmiddag is daar skielik ‘n groot gedruis in die kantoor. Die administrasiekant sak almal op die een hoek van die kantoor toe waar al die argiewe gebind rondstaan en begin ywerig skoonmaak en regskuif.
Binne minute, toe is daar van koud kry nie meer sprake nie. Ek dink hulle het hul kant van die kantoor se verwarmer afgeskakel.
Aan die kant het ons net die saak beloer en nog koffie gemaak. Elke mens het seker maar sy eie manier om warm te word en te bly in die koue.
Ek was hoeka die naweek weer so geïnspireer deur almal wat die Comradesmarathon aangedurf het. Regtig waar, ek haal my spreekwoordelike hoed vir hul af.
Nie dat ek die hele gedoente verstaan nie. Hoekom sal duisende mense hulself so moor elke jaar?
Kollega Christiaan het sy 15de Comrades aangepak en suksesvol voltooi. Ek is inderdaad baie trots op hom al het hy die oggend daarna laat weet… “eina, eina, eina. Nooit weer nie.”
Weet my geheue is nie altyd so skerp nie, maar ek kon sweer hy het verlede jaar bykans presies dieselfde woorde geuiter.

Hierdie jaar het hy sy tekkies se sole geheel nerfaf gehardloop en weer my senuwees aan flarde gehad. Nee, ek was nie daar naby nie. Ek het wel die hele dag met my selfoon in die hand gesit.
Het die Comrades toep afgelaai en Christiaan en mnr. Coenie Herbst van Laerskool Kollegepark se vordering met ‘n valkoog dopgehou.
Ek weet daar was duisende ander, maar dis nou die twee atlete wat ek persoonlik ken en my senuwees was klaar. Aan flarde sê ek jou.
Dis mos nou nie dat mens ‘n videobeeld kan volg op die toep nie, wel net ‘n naam en ‘n tracker wat vir jou so min of meer aandui waar hulle hul bevind het.
Veral Christiaan het my skoon benoud gehad daardie laaste 30 km, maar gemaak het hulle dit gemaak en met heelwat tyd om te spaar voor daardie verderflike skoot om 17:30.

Waar was ek nou weer? O ja, die atlete het my so geïnspireer. Regtig waar. Ek het net weer eens besluit dat die beste ding wat ek vir myself kan doen is om by stories skryf te hou en die hardloop te los vir mense met sterker enkels, knieë en longe as myne.
So van inspirasie gepraat. Die Maandag na die Comrades het ek vroegdag ‘n afspraak by die plaaslike gym. Hygend hert mens, nie om te oefen nie, dit was vir ‘n onderhoud.
Met ‘n hele groep dames wat op daardie stadium aan’t springe was in die swembad. Gelukkig ‘n binneshuise, warm een.
Die dames noem hulself die Splash Klub en probeer om elke oggend in die week in die swembad te oefen.
Een van die oudste dames daar was Tannie Carol de Witt. Sy is 87 en bestuur nog self en sê sy glo aan oefening. Dit hou haar brein aan die gang.
Maar dit was die een wat my oor die groep gekontak het, wat al vir my ‘n inspirasie is van my laerskooldae. Mev. Suzette Vlotman. Ek noem haar steeds juffrou.
Sy het dekades gelede vir my Engels, L.O en Noord-Sotho gegee. Altyd lekker om tyd saam met haar te spandeer. Fiks, gesond met ‘n lus vir die lewe en ‘n vonkel in die oë.
Haar Engelse klasse het beslis ‘n impak gehad, want toe een van die Engelse dames na die tyd oor ‘n koffiesessie naderstaan om te groet, wou die dame summier weet of ek Engelssprekend is? Want ek klink dan nou vir haar Engels.
Oh jinne, my ingels het erg geroes geraak vandat ek die staatsdienslewe agtergelaat het en 99% van my stories in Afrikaans pleeg.
Reken sy toe hoeka ek en my voormalige onderwyseres lyk soos susters. Groot kompliment vir my. En net vir die rekord, dis juffrou wat so jonk lyk vir haar ouderdom en nie ek wat so oud lyk vir myne nie. Wel, ek hoop!
Allegeval, so het ek die afgelope tyd my verkyk aan almal wat hard oefen, draf en medaljes kry, maar self het dit my nou nie oortuig om by die naaste gym aan te sluit nie.
My huidige tydsbeplanning laat nie sulke aktiwiteite toe nie. Dalk waag ek dit weer in die swembad in die somer, maar op die oomblik is my grootste oefening om betyds uit die bed te val in die oggende. Sela!
