Local newsNews

Pynlike, lang herstelpad na fratsongeluk

Die saag het sy hand amper afgesny, maar Kobus Drotskie het sy hand behou. Die pad na herstel is baie lank en baie seer.

VEREENIGING – Dis ‘n opdraande stryd vir oud Valie Kobus Drotskie (32) nadat sy hand vyf weke gelede amper heeltemal in ‘n fratsongeluk afgesny is.

11 Julie het as ‘n gewone Saterdag vir Kobus en sy gesin begin. Hy en sy seuntjie, Luan (5), het hout met ‘n tafelsaag gesny. Wat presies fout gegaan het, kan niemand sê nie. Die saag het Kobus se hand gevang en hy het net ‘n harde slag gehoor. Sy hand was net aan sy duim vas.

Foto: Jacqui Drotskie

‘n Span dokters het sy hand dieselfde dag nog geopereer en hy het onder andere drade in sy hand gekry. Intussen het die dokter bevestig dat hulle 14 tendons, twee ligamente, al die beentjies in sy gewrig, sy hoofslagaar, al die are en al sy senuwee in die hand moes herstel.

Kobus het einde Julie met rehabilitasie begin. Sy vrou Jacqui het  laat weet dat die drade steeds in sy hand is. “Sy rehabilitasie is okay, dis baie pynlik vir hom. Daar is minder beweging as wat hulle wou hê, en sy hand lyk korter aan die een kant. Hy kan ook nie lekker sy pinkie en ringvinger beweeg nie.”

Kobus was weer Donderdag vir ʼn opvolgbesoek waar 36 staples verwyder is, met nog steke wat later verwyder sal word. Die drade sal die eerste week in September verwyder word. Hulle sal eers daarna kan vasstel of sy hand nog gemanipuleer moet word en, indien wel, wanneer dit sal plaasvind.

Die Drotskies is dankbaar vir al die donasies, boodskappe en gebede, in wat Jacqui beskryf, as die moeilikste seisoen van hul lewe.

“Dankie vir elke donasie, elke gebed, elke boodskap van bemoediging en elke keer wat julle sy storie gedeel het. Julle liefde en ondersteuning beteken vir ons meer as wat woorde ooit kan beskryf.

Ons het nog ‘n lang pad van herstel en mediese uitgawes wat voorlê, daarom vra ons nederig dat julle asseblief sal aanhou bid, aanhou deel en, indien moontlik, aanhou bydra.”

Kliek hier om te help met sy mediese onkostes.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button