Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Wat gebeur in ons kantoor as die krag groet? Ons loop ons vas in deure wat skielik nie meer werk nie .... onder andere
RUBRIEK. – Om by ons kantore in te kom, is gewoonlik baie maklik. Jy moet net die kode intik en onthou om die #-teken te druk en siedaar, jy is binne.
My nogal lank gevat om die kode te onthou, het altyd eers die nommer op my foon opgesoek en dan was die kanse groot dat ek in allegeval die # sou vergeet.
Nou se dae gaan dit baie beter. Dit was nou tot laasweek. Sit ons almal bankvas agter skerms met vingers op die sleutelborde en werk baie hard.
Die volgende oomblik sak daar ‘n duisternis op die kantoor neer. Ons steur ons eers nie daaraan nie. Hier is ons lekker bederf, as die krag afgaan skop ‘n tamaaie kragopwekker binne ‘n minuut in en dan kan ons aangaan.
So tik die minuut verby en niks gebeur nie. Ons bespiegel of die kragopwekker dalk sonder petrol staan. Kan wel die magtige dreuning van die een aan die anderkant van die gebou hoor, maar die kant is daar stilte.
Ek beskou dit as ‘n teken om eers myselwers na die rookkamer te begewe. Om daar uit te kom moet mens by die kantoordeur uit en by die ingangtrappe af alvorens jy die oulike kamer van die buitekant af kan benader.
Dit was met die terugkomslag wat ek die probleme ondervind het. Ek tik die kode in, maar niks gebeur nie. Ek probeer weer, steeds niks. Van die binnekant af snel een van die grafiese ontwerpers my te hulp.
Daar is mos ‘n knoppie aan die binnekant wat mens net druk en dan gaan deur oop. Toe nou nie. Deur werk nie, krag is af. Ek staan half besluiteloos voor die toe deur.
Het ek my motorsleutels by my gehad kon ek dalk vir ‘n wyle pad gevat het, maar die is saam met my kamera in die kantoor. Ek is gestrand.
Probeer onthou wie het ek nou al die oggend van die administrasiekant af gesien verby my wals. Ek weet van hulle moet sleutels hê.
Bygesê, ek het ook nou nie almal se selfoonnommers op my foon nie en die skakelbord was op daardie stadium ook buite werking oor die kragprobleem.
Eindelaas besluit ek om Anneline op te soek. Sy antwoord, maar ek kan hoor ek pla so bietjie. “Ek is in die boardroom” sê sy, en ek weet dadelik daar is ‘n vergadering aan die gang.
“Skuus,” seg ek, “maar ek is uitgesluit, die kragopwekker het nog nie ingeskop nie en die deur werk nie.” Anneline kom tot my redding en Yolandie sluit die deur aan hul kant oop. Moet bieg, ek het nie eens geweet daar is ‘n deur nie.
So, is ek toe darem weer agter my rekenaar. Kry hier en daar iets gedoen terwyl die laptop se batterykrag hou, maar sonder die internet en ons server is ek bietjie verlore.
Eindelaas sien ek dis amper tyd vir my volgende onderhoud. Ek pak in en vind my weg na die ander deur. “Die elektrisiën is besig,” verseker Penny my so met die uitgaanslag. “Is reg, maar ek het twee afsprake kort op mekaar,” beduie ek.
Vlak by die parkeerarea uit, gewaar ek ‘n hele gedoente op die hoek van die straat. Daar staan ‘n platbak vragmotor met ‘n reuse kragboks op en ‘n hyskraan is besig om die gedoente af te laai.
Tyd om my aan die affêre te verstom het ek nie en ek gaan handel my onderhoude af. Met die terugkomslag sien ek daar staan twee grote kragbokse langs mekaar. Albei oop en dis net drade en manne wat werk.
Buite dreun albei kragopwekkers gesellig. Binne is die muurproppe steeds af, maar die server werk darem. Die deur ook.
Die manne het geweet wat hul doen, want toe ek die volgende oggend die draai vat kantoor toe is daar net een netjiese kragboks. Alles mooi toegemaak en binne werk al wat muurprop is weer volstoom.
Tot hierdie week. Was so net na 12:00 toe sak die duisternis neer. Minder as ‘n minuut later skyn die ligte weer helder en van ver af hoor ons die magtige dreuning.
Probleem is die kragpunte. Dit bly uitskop. Ook net aan ons kant van die kantoor. Terwyl Yolandie die elektrisiën kontak, laat weet ek solank South en North Ster se twee redakteurs om asem te haal.
Dis saktyd en die mense wat van hul huise af werk kan net so min op die stelsel inkom as ons. Binne die kantoor gaan daar ‘n weeklaag op omdat daar nie koffie gemaak kan word nie.
Die wat na buite storm vir ‘n rokers-blaaskans of ‘n telefoonoproep loop hul almal in ‘n toe deur vas op pad terug.
Gelukkig is die ander deur betyds oopgesluit, so niemand was die keer buite gestrand nie.
Voordat die lus vir koffie ons oorweldig het en voordat die Ster-manne hartaanvalle kon kry, was die elektrisiteit weer in volle swang en kon almal weer fokus en aangaan.
Dis wat mens goeie diens noem. Wens net ons het dieselfde diens by die munisipaliteit gekry…. Sela!
