Ek sê maar net…
RUBRIEK. - En toe beland ek by die lisensiekantore vir 'n nuwe lisensiekaart... ai ja... lees maar self.
RUBRIEK. – Begewe ek my op ‘n bloue Maandag na die lisensiekantore. Noodgedwonge, want my lisensiekaart het in Februarie al verval.
Ek het bly uitstel, want ek verpes administrasiewerk van enige aard. Boonop is ek allergies vir enige plek wat lyk soos ‘n instelling – banke, poskantore, binnelandse sake en natuurlik lisensiekantore.
Ek het Sondagnag al maagpyn en nagmerries oor die volgende oggend se lisensie-aansoek situasie gekry.
Maandagoggend skuif ek verwoed onderhoude rond om uiteindelik 09:06 in die ry by Sasolburg se lisensiekantore te gaan staan… en staan… en toe is dit my beurt om in te gaan.
Die vrou aan bewind van die navraagtoonbank was seker in haar vorige lewe ‘n sersant majoor.
Ek was nog nie ‘n minuut binne nie, toe kry ek en die meisie agter my raas omdat ons self van die vorms op die tafel gevat het. Sy sal dit vir ons gee.
Ek “sorry Mam”, soos ‘n stout skoolkind en gaan sit op ‘n oop stoel en kyk hoe sak hordes ander op die tafel toe en vat self vorms sonder dat “sersant-majoor” dit raaksien of raas.
Uiteindelik het ek vorm in die hand en kan ek invul wat ingevul moet word. Nou vorder die ry sit-sit. Baie stadig, maar darem. Eindelaas begewe ek my na binne.
Die jongman agter die baie masjiene is baie vriendelik. Ek is skoon verward en verstaan skielik geen woord Engels nie.
Die arme man het seker gedink, dié tannie moet liewer nie eens ‘n winkelwaentjie bestuur nie, wat nog van ‘n motor!
Dis nou nadat hy drie keer vir my moes sê om agter toe te skuif en vir die kamera te kyk.
Om een of ander rede, dag ek hy bedoel ek moet my oog teen die masjien sit soos hul altyd maak by die oogkundiges.
Hoe my oog ‘n sentimeter van die kamera af gelyk het, weet ek nie, maar die man het darem geduldig en vriendelik gebly.
Terug in die gang, gaan staan ek so ewe agter in die ry voor die betaaltoonbank soos wat ek gesien het ander mense maak toe ek nog deel van die sit-sit ry was.
O weë! Sekondes later toe sak die “sersant-majoor” antie weer op my neer. “Mam, the line is outside,” en sy pluk daai deur oop asof dit die laaste ding is wat sy vandag gaan doen.
Ek stap gedwee na buite. Val eers weer in die eerste lang ry in, maar gewaar toe gelukkig my buurman van die sit-sit ry daar voor op die trappe.
“Do we stand here for payments?” vra ek.
“I think so,” sy antwoord. Geen sprake van ‘n ry nie. Almal bondel maar net so op die trappe.
Baie, baie lank daarna, sluit die “sersant-majoor” antie weer die deur oop en beveel vier van ons om in te kom.
Ek trap amper my sit-sit buurman se hakke af om seker te maak ek gaan saam met hom in.
Die ry vir betaal binne die klein geboutjie maak ‘n boog om die tafel met die vorms. Teen die muur gaan die sit-sit ry nog aan. Ons staan.
‘n Jongman maak sy verskyning vanuit die gang en val agter my in. Ek raak summier benoud vir sy part. “You have to wait outside. They’ve thrown me out earlier.”
“No worries,” glimlag hy terug en bly staan. Later is daar seker ses mense agter my. Almal het van binne af gekom en in die ry kom val.
In die sit-sit ry merk ‘n ander vrou die onregverdigheid op en toe die “sersant-majoor” weer verbywals, verkla sy hulle.
Sal daai antie nie haar oë hemelwaarts rol en toe net vir die laaste twee in die ry sê om uit te gaan nie? Ek het intussen tot heel voor beweeg.
Daar is twee tellers. Ek wonder nog watter een gaan eerste oopgaan, toe gebeur daar twee goed tegelyk.
Uit die niet verskyn daar mense wat summier deur die “sersant-majoor” voor die eerste teller geplaas word en twee mans storm op die tweede teller af.
‘n Vinnige geselsie en toe staan die een man, ‘n mnr. Venter (dis nie ‘n skuilnaam nie, dis wat ek gehoor het) skielik heel voor in die sit-sit ry en die teller is besig om vir die ander man ‘n lisensieskyf te druk.
Teen daai tyd was my geduld op, my voete seer en my Bruinette-humeur gevaarlik naby aan rooi, maar ek staan, my staan en probeer aan ander goed dink.
Na drie en ‘n half ure staan ek uiteindelik weer langs my motor, tydelike lisensie en bewys van betaling in die hand.
Gedaan. Stomgeslaan oor die reëls wat so openlik net vir party mense geld, maar dankbaar dat ek die nagmerrie agter die rug het.
Hopelik het iemand oor vyf jaar al van hierdie totaal belaglike, tyd- en geldvretende stelsel ontslae geraak. Sela!
