Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Vandag is die groot stryd tussen Engeland en Suid-Afrika. Alhoewel, ek ly nog aan skok na die kwarteindrondte. Lees meer...
RUBRIEK. – Die AngloBoereoorlog word die naweek van vooraf beslis. Hierdie keer nie op die vlaktes van die ou Transvaal of die Vrystaat nie, maar wel in Indië en Frankryk.
Die spanning loop hoog. Die eerste kanonvuur het om 10:30 weerklink. Dis die slag van Wankhede waar die Proteas en Engeland slaggereed die kolwe laat klap.
Die grootste geveg gaan egter eers na sononder plaasvind. Die Springbokke het reeds laer getrek in Frankryk. Die kakies beplan ‘n opmars. Duisende Ingelse wat die pawiljoene gaan vol sit.
‘n Oormag teen 23 spelers in groen en goud. Sal nie die eerste keer wees wat ons ‘n oormag aandurf nie. Vra maar die Hane wat nou lang trane huil. Gepraat van daai laatnag kwarteindstryd op ‘n Sondagaand, dit was ‘n riller.
Op ‘n stadium toe Libbok so na die pale toe mik, haal Liewe Vriend glad sy bril af. “Ek kan nie kyk nie. Sê my as dit oor is”. Gee ek so ewe kommentaar asof die TV nie kliphard die rugby in Afrikaans uitsaai nie.
Moet bieg, ek het wel op ‘n stadium verklaar, ek gaan nooit weer rugby kyk nie, van nou af kyk ek net tennis. My middeljarige hart kan nie meer al die spanning verduur nie.
Die Springbokke het my senuwees klaar gehad, maar met halftyd toe seg ek, wag net dat onse Yster Etsebeth van daardie onregverdige geelkaart-rus terugkom en Kwagga Smith opdraf. Dan sal dinge gebeur. En dit het!
Maar soos Ma die volgende oggend sê, “die Springbokke se velle sit nog aan die draad vas.”
“‘n Wen is ‘n wen” was my enigste kommentaar. Die nadraai van daardie wedstryd het die Maandagoggend ‘n gruwelike merk op menige ondersteuner gehad.
Ek weet die wedstryd was al net duskant 23:00 klaar, maar toe loop die adrenalien so sterk, ek dink ek het eers by 01:30 aan die slaap geraak.
Maandag was ‘n uitmergelende een. Ek was beslis in Zombie-mode en het koffie vir Afrika gedrink net om wakker te bly.
Het selfs op ‘n stadium die helfte van ‘n koffiesakkie langs die beker laat beland. Teen slapenstyd was ek oormoeg met te veel kaffeïen in my lyf en wou droomland alweer nie betyds inskop nie.
Gelukkig gaan selfs Maandae verby en teen Woensdag het mens alweer kans gesien vir die naweek se rugby.
Die semi-finaal. ‘n Mens kan nooit die Engelse onderskat nie. Die senuwees knaag. Enigste ligpunt is dat die oorlog die keer op ‘n Saterdag plaasvind. Gee mens darem Sondag tyd om bietjie verlore slaap in te haal. Sela!
