NewsNews

Kleinsus ook ‘n ontluikende sportster

Haar ousus Ansumé het onlangs 'n 22 jaar oue SA paalspringrekord gebreek, en kleinsus wil ook naam maak.

Die 16-jarige Caprivi de Beer is ook ‘n uitblinker op die atletiekbaan. Sy het as 800m-atleet ook ‘n beurs ontvang by Hoërskool Stellenbosch en in 2024 het sy begin floreer.

Sy is deel van die skool se o19A-hokkiespan, sy dien op die sosiale komitee en welstand komitee, is bemarker by die Stelloskoop, presteer as top 10 leerder en natuurlik is sy ‘n uitblinker-atleet.

Caprivi het egter verlede jaar besluit dat sy haar hardloopskoene vir die paalspring verruil.

Sy neem deel aan Atletiek SA se byeenkoms in die o18-kategorie en behaal ‘n derde plek met ‘n hoogte van 3.30m.

Caprivi het ook kwalifiseer vir die Senior SA kampioenskappe wat op 17 April plaasvind.

Caprivi de Beer (16) wil ook haar merk in paalspring maak.

Die De Beer-egpaar, Angelique en Stephan, van Sasolburg se twee talentvolle dogters het daartoe bygedra dat hul nuwe planne moes beraam.

“Ons het in Junie 2024 besluit om nader aan ons kinders te wees en hulle ten volle te ondersteun.

“Ons het Ansume uit die koshuis gehaal en tussen my en my man het ons beurte gemaak om ‘n maand op ‘n slag in die Kaap te bly. Ons het mekaar bitter min gesien en die uitdaging was groot, maar met groot genade het ons ook deur dit gekom,”vertel Angelique.

Die egpaar huur ‘n meenthuis in die Kaap, maar nou dat Ansumé klaar is met skool, speel Angelique voog vir Caprivi en is sy en Stephan nou meer gereeld terug in Sasolburg.

Die familie se verbintenis met die sport en die skoolhoof van Hoërskool Stellenbosch, mnr. Theo Pellissier, loop egter ’n merkwaardige pad.

“Wat alles vir ons nog meer spesiaal maak, is dat mnr. Pellissier ook vir my en Stephan by Hoërskool Sasolburg skoolgegee het,” sê Angelique. “Hy het selfs vir Stephan in paalspring afgerig.”

Die liefde vir die sport vloei dik deur hul are. Hul oupa, Aubrey Giles van Sasolburg, was self in sy jong dae ’n kranige paalspringer en is vandag steeds hul grootste ondersteuner wat soveel byeenkomste as moontlik bywoon.

“Al wat ons bitter graag wil hê die wêreld moet weet, is dat die Here vreeslik goed is vir ons kinders en hulle ongelooflik geseën het. Ons is ’n hegte, gelowige gesin wat glo dat enige iets moontlik is met gebed en harde werk.”

Ansumé de Beer (links) en kleinsus Caprivi.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button