Local newsNews

Netbal, net netbal en niks anders as netbal nie

Sy is 'n bondel positiewe energie wat lewe vir netbal. N'Yoke van Tonder het die kans om oorsee te gaan speel, maar sy het hulp nodig.

VANDERBIJLPARK – Haar naam beteken Victory of the sun child en dit pas N’Yoke van Tonder perfek. Die graad 10-leerder van die Hoërskool Driehoek is op haar gelukkigste in die buitelug.

As dit op ‘n netbalbaan is, soveel beter. Sy staan nie verniet bekend as N’Yoke ‘Netbal’ van Tonder nie. Die sport is haar hele lewe. Wanneer sy nie vir die skool netbal speel nie, dan speel sy Action Netbal.

N’Yoke in aksie op die netbalbaan. Foto: Annuschka van Tonder

Aan haar energie is daar geen einde nie. Die netbalgogga het haar in graad R gebyt. Tot graad ses het dit goed gegaan en het sy A-span gehaal, maar daar het sy haar vasgeloop.

Skielik was daar ‘n netbalafrigter wat besluit het N’Yoke is nie goed genoeg nie. Sy het nie eens die B-span gehaal nie. N’Yoke het met mag en mening teruggeveg met ‘n determinasie en doelgerigtheid wat geen perke gehad het nie.

“Ek het my doodgeoefen,” vertel sy. In graad sewe het haar harde werk vrug gedra. Nie net het sy A-span gehaal nie, sy is ook gekies vir die Bokkieweek en die Bokkieweek se Somerweek.

Van toe af eet, slaap en droom sy net netbal. N’Yoke is hulpdoel. Sy het verlede jaar bietjie doel gespeel, maar erken dit was nie vir haar nie. “Ek hou nie daarvan om stil te staan nie. As hulpdoel kan ek meer beweeg,” verduidelik sy.

Stilsit is ook nie deel van haar bestaan nie. Sy is altyd aan die gang en het vroeër vanjaar haar skeidsregter gradering geslaag. Dan is sy ook ‘n spiesgooier van formaat wat in haar eerste jaar van deelname tot die Gauteng-atletiekkampioenskappe deurgedring het.

N’Yoke sorg dat haar akademie op top standaard bly. “My ma hoef net te sê, jy gaan nie die naweek netbal speel nie, dan luister ek,” lag sy vrolik. Sy droom daarvan om eendag vir die Proteas te speel en Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig. Dis eendag…

Tans samel sy geld in om in September saam met die Jems Netball Invitational span na die Verenigde Koninkryk te toer. Sy het die UK-span gehaal nadat die o16A-span aan ‘n toernooi in Bela-Bela deelgeneem het.

Die toergelde beloop R70 000 en sluit nie haar sakgeld, VISA en twee aandetes in nie. Daar is vyf meisies van Driehoek gekies vir die span. Saam met N’Yoke beplan Logan van der Bank, Lindie Blignaut, Mieke van Niekerk en Milan Loots projekte om geld in te samel.

N’Yoke se ma, Annuschka, het ook ‘n Back-a-Buddy rekening begin. Donasies word direk in die organiseerders se rekening inbetaal om vir die toer te betaal. Enige donasies sal waardeer word. Klik hier om te help.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button